Thursday, October 15, 2009

Dese dag toe proe ek my ouma se konfyt in Annerland


Vandag was toe die dag. Al lankal lus gehad om weer ‘n keertjie tamatiekonfyt te kook (nogal ‘n waagstuk, gesien my kombuismanewales so twee possies gelede….)


En ek is nou maar eenmaal ‘n kortpadkok. (Darem so nou en dan ‘n uitsondering, waneer ek nie omgee om fênsie en met fieterjasie te kook nie.)

Dus en daarom skil ek nie die konfyttamaties nie; buitendien, ons hou van die repies skil so saam met die pitjies in die taaigekookte stropie.


Soek toe so bietjie rond vir ‘n geskikte reseppie, nie dat die Ingelse internet oorloop van sodanige resepte nie. Ons bevind ons onder ‘n volk wat verslááf is aan tamatieketchup (lyk soos tamatiesous, maar soeter), maar feitlik nie tamatiekonfyt ken nie!


Dié ou rooie staatmakers het hul oorsprong (destyds nog net so groot soos kersietamatietjies) in Peru. Maar, Viva la conquistador! Want die Spaanse veroweraars neem die plantjies Europa toe, waar dit fluks versprei en Parys met geur en kleur oorneem ten tyde van die Rewolusie.


Die Italianers egter, had vrede met die Franse se tamatiepit-gekou so tussen hul bakleiery deur, want volgens húl romantiese mening was hierdie liefdesvruggies die ware jakob om mens lus te maak vir “un milione di baci” (drukkies en soentjies).


Maar o wee, in die land van die “stiff upper lip” (nie bekend vir goeie minnaars nie), bevind ‘n seer geëerde fisikus en kruiekundige dat die Spanjaardse en ’Taljaners vinnig besig is om hulself met hul tamatie-etery te vergiftig en hy weier beslis om dit as kos te klassifiseer. Só versier die afgekeurde tamatieplante toe maar ewe sedig die Ingelse tuine, totdat ongeveer hier teen 1728, ‘n paar dapper vroue (hoera!) dit stilletjies in hul soppotte begin inglip.


En in Amerika? Nou ook maar nie veel dapperder as die Britse voorsate of vinniger om die bygelowigheid af te skud nie. So hier-en-daar is die groeiseltjie stadigaan aanvaar, maar om ‘n klomp op ‘n slag te eet? Doodsake! Dit was die opinie van dokters in Salem, Massachusetts op 25 September 1820. Kol. Robert Johnson sou naamlik voor 2 000 toeskouers op die dorpsplein ‘n kilogram (2 lb) tamaties opeet om te bewys dat al die gifstories ongegrond is.


Die spanning het hooggeloop. Doodluiters het die kolonel die een tamatie ná die ander na binne gestuur, opgestaan en weggestap, en gesterf…veertig jaar later!

Dog, die groot tamatiekoors het eers in 1834 behoorlik uitgebreek nadat ‘n mediese dokter die lof van die tamatie in ‘n koerantartikel besing het. Toe was dit tamatieresepte, en tuinbouwenke en gesondheidsartikels voor en agter. Tot selfs tamatiepille het teen 1837 hul verskyning gemaak.


Maar tamatieslaai? Tamatietoebroodjies? Tamatiesous? Onbekend! Tot so 70 - 80 jaar gelede.


En selfs nou nog, hier in die jaar 2009, ken die ‘Merikaners nie regtig tamatiekonfyt nie. So hier-en-daar kry mens ingevoerde potjies van dié pittige, rooi soetgoed op die rak, maar dan smaak dit niks te nimmer soos kleintyd s’n.









Dis toe met dié dat ek vandag konfyt gekook het. Met gekneusde gemmer en suurlemoensap en ‘n veegseltjie kaneel.


En soos ek hier sit, is ek soet tot agter myse ore…



11 comments:

Dané said...

"...veegie kaneel..." Jou konfyt klink lekker!

My mammie het ook altyd heerlike konfyt gekook, ek "proe" dit vandag nog op my tong.

Mooi prentjies, Mariki, dankie.

Sonja said...

Ai! Dit lyk darem lekker! En dit is so kleurvol! Jy lyk vir my na n baie goeie kok!

Sonja said...

My Maatjie, ek het vir jou huiswerk gegee, gaan kyk daar by my!

mariki said...

Neeee Sonnetjie, ek probeer my bes, maar soms....

Het die hele tyd aan jou gedink oor al die ongesondheid wat ek besig was om aan te rig. Suiker is GIF -- ek weet!! Maar daai oumakonfyt is darem maar so lekkerrrr....

En oor die tuiswerk is ek nou nuuskierig -- sal gaan loer.

Anonymous said...

Gosh, never knew die geskiedenis van 'n tamatie! Jy het my nou baie vertel. Love your pics.

C

mariki said...

C'tjie, die tamatiegeskiedenis was vir my net so uiters interessant.

Jan and Miekie said...

Nou het ek ook weer 'n ding of wat geleer. Die konfyt lyk baie lekker. Hoop nie jy het suiker op die vloer gemors nie.
Ek het gister noukeurig en suinig seeppoeier afgemeet en toe ek die pak terugsit op die rak kantel dit want dit was amper leeg, en daar val die kosbare "gespaarde" seeppoeier op die vloer. (Het ek dit maar liewer in die wasmasjien gegooi!) Die gemors het my aan jou laat dink en ek het dit nogals oorweeg om 'n foto daarvan te blog.... Al was dit net om vir jou te wys, dit kom almal oor.

Huisvrou said...

Mariki
Jy het my nou so LUSSSS ek kan vrek. My seunskind (nr 3) is gaande oor tamatiekonfyt en die laaste keer wat sy ma dit probeer het - kom ons sê maar dit was tameletjie met 'n tamatie-geurtjie,...

mariki said...

"....Hoop nie jy het suiker op die vloer gemors nie." Nou wáár kom jy aan daardie idee, Miekie??

My simpatie oor daardie seeppoeier. Weet PRESIES hoe jy gevoel het. Nie net oor die mors nie, maar as mens so in jou skik is met 'n spaarplannetjie en dit loop skeef.

Ek is darem al beter met die morsery as vroëerjare, hoor.

"Tameletjie met 'n tamatie-geurtjie"!! Maar ek het die hoogste bewondering vir jou knapheid -- volgende keer sal dit 100% wees, Marlize.

Nimsi se Blog said...

Jou jêm lyk mooi marietjie, gaan probeer...

mariki said...

Nims, dankie.