Thursday, October 8, 2009

"Waansinnig mooi" -- o wel, amper! (3)

Die fantastiese spuitbronne staan natuurlik as geysers bekend. Maar wáár lag skoonseun

eendag amper sonder ophou toe ek dit op ons ou manier (soos in Afrikaanse-Engelse vir warmwatertenk) uitspreek. Nee, word ek reggehelp, daai soort“geezer” is ‘n eksentrieke ou omie, terwyl die wit spuitgatwatertjies nou eintlik ‘n “guy-ser” is. Thanks guy, nog iets geleer.


Almal wat Yellowstone toe gaan, sien vreeslik daarna uit om “Old Faithful” -- die bekendste “guy-ser” in die park -- te sien, en omtrent ‘n kwartier voor hy spuit begin die mense al stelling inneem.


Old Faithful is nie die hoogste spuiter nie, maar jy kan amper jou horlosie stel omdat hy so voorspelbaar sy vertoning lewer. (Brosjure foto)


Sy spuitbek: (dis natuurlik 'n brosjurefoto, want self mag mens nie naby kom nie.)


Die waterblasery kan 3 700 – 8 400 gallon (14 – 32 000 liter) kokende water tot op ‘n hoogte van tussen 106 – 185 voet (30 tot 56 meter) opskiet, vir 1.5 tot sowat 5 minute lank.


Glo dit of nie, maar Old Faithful is glo in die verre verlede as wasmasjien gebruik: “Garments placed in the crater during quiescence are ejected thoroughly washed when the eruption takes place. Gen. Sheridan's soldiers, in 1882 found that linen and cotton fabrics were uninjured by the action of the water, but woolen clothes were torn to shreds.”


'n Dubbele spuiter:

Die volgene ene was nie veronstel om voor drie ure later te blaas nie (daar word tot op die minuut boekgehou van watter wanneer spuit). Mensig! Julle moes die opwinding ervaar het toe ou grootbek skoon ontydig begin gorrel, en dadelik is dit per radio deur van die "guy-ser gazers" aan die hoofkantoor gerapporteer.


Ja, daar is regtig so 'n internasionale vereniging. Een Britse omie en tannie het ons vertel hulle kom nou al agt jaar lank vir drie weke op ‘n slag om die poele en fonteine te bekyk en te bewonder en te rapporteer. Dan sit sy ewe rustig en brei en hy lees, en as die vertoning verby is, kruie hulle met hul fietse aan na die volgende ene toe. (Klink of dit verslawend kan wees?)


So kom ons by 'n skare wagtendes op parkbankies by 'n groot warmpoel verby. Hierdie ene, só word ons meegedeel, spuit hoër as Old Faithful en gaan binnekort blaas. Die opwinding pak ons beet en nou ja, ná 2 ure in die warm son (!), is ons beloon. Nou wel net met so 90 voet, maar dit was sóó die wag werd.



Kokende fonteine, warm modderpoele en pragtige spuitbronne (guy-sers!) herinner mens daaraan dat ‘n “supervulkaniese” uitbarsting weer enige oomblik kan plaasvind. Volgens kundiges kan dit selfs die grootste deel van die VSA verwoes. (Die ene van 2.1 miljoen jare gelede het glo sy as tot in Texas gespoeg het.)

Anders as gewone vulkane, het die ondergrondse Yellowstone ene geen bergpiek wat as “spoegpunt” kan dien nie, en daarom kan die ganse bogrondse area deur ‘n titaniese uitbarsting weggeblaas word wat duisende kere meer kragtig is as ‘n gewone vulkaan en die hele Amerika onder 3voet as kan begrawe... hmm, grillerig.


In 1959 was hier ‘n 7.5-aardbewing! En in 2002 alleen, meer as 2 350 minder ernstiges.

Maar nogtans, en ten spyte van al hierdie “ernstige” feite, is Yellowstone eenvoudig asemberowend! En nogmaals het ons net klein geword voor die ondeurgrondbare grootsheid van die Vader se skepping.


9 comments:

Sonja said...

Dit moes n belewenis gewees het om dit self te sien! Wow!

mariki said...

DIS die woord, Sonja -- be-le-we-nis.

Nimsi se Blog said...

WOW mariki - ek sukkel om te kommentaar!Baie dankie vir die deel vriendin. Al drie hierdie inskrywings het my so betower...

Thea said...

Jinne Mariki, kom ek gisteraand heel toevallig op die History Channel af wat 'n program uitsaai oor Yellowstone. Vir my was dit geweldig interessant dat dit nie die "hotspot" is wat beweeg nie, maar die kontinent, skynbaar teen 1 of 2 duim in 'n noordwestelike rigting elke jaar! Ek het jou inskrywings oor Yellowstone en die geysers nou regtig baie geniet.

Mariette. said...

Shoe Wat 'n voorreg om so iets besonders en fantasties te beleef!

Dané said...

Die Here bederf sy kinders!~

mariki said...

Ag ou Nims -- had ek maar geld om jou dit te kan laat sien....

Thea, ek skud net my kop in verstomming oor hoe ons Vader die natuur orkestreer.

Voorwaar, Vlooitjie, voorwaar.

Stem,Dané!

Desia said...

Daar is soveel om te bekyk op aarde, dis 'n voorreg om dit deur iemand anders te beleef, ingeval mens self nooit daar uitkom nie!
(Ek het ook al die ene oor die "geyser/geezer" gehoor - ons het 'n
"water-heater" eers 'n "geyser" genoem, tot ons reggehelp is!)

mariki said...

Desia, dis een van die dinge wat my TUSSEN die oë slaan: dat mense kan bly ontken dat net 'n liefdevolle SkepperGod so-iets soos hierdie wonderlike wêreld kon gemaak het!!