Kyk, ek vermoed vuilspel in my tuin.
Baie jare al het ek begeer om ‘n clematis te plant. Van alle kante het ek hulle by kwekerye en in tuine en parke bekyk en bewonder. Nou nie almal nie, dis nou, bewonder nie. Veral nie dié met so ‘n dowwe, neerdrukkende begrafnispers blom nie.

Maar o, defnitief het ek met die oog so gevang-vang na die Nelly Moser se kant toe. Dáái ene sal in my tuin pronk, dit het ek sommer net gewéét.

Besluit toe verlede jaar met groot oorleg waar ek vir Nelly gaan laat stoelmaak en rank. Lees op oor groeiwyse, bestudeer plantmetodes en gewapen met my oorwoë kennis, maak ek haar een sonnige Saterdagoggend liefkens op haar eie en spesiale plek staan, met haar geliefkoosde beenmeel om die wortels gestrooi.
En Nelly stel nie teleur nie. Net so hier aan die einde van die groeiseisoen, beloon sy my bewondering en waardering met ‘n pragtige, ragfyn trossie van drie fee-agtige, sagpers blomme wat my opgewonde na Vennoot laat roep om hierdie mooite saam met my te kom waardeer. ‘n Jarelange gedagteblom se ware swier is toe mooier as wat ek my kon verbeel het.
En die winter het gekom en die winter het gegaan en Nelly kry haar lentekos en so wag ek weer met opwinding dat die bykans 15 nuwe knoppe moet oopmaak.
Dog met ons terugkoms van Kalifornië af verlede week, is dit waarrempel nie Nelly wat ons inwag nie, maar….Jack! En hoe lyk hierdie indringer van ‘n Jack miskien….?
SO:
Clematis Jackmanii
Nou kyk, dit kon gewees het dat ek maar net die verkeerde plant by die kwekery gekoop en kom plant het. Maar Vennoot het dan verlede Augustus saam met my die drie pragtige lilapers blomme gestaan en bewonder!
Daar bly dus net een moontlikheid oor: iemand het my Nelly kom omruil vir sy Jack.
Maar wie???