Tuesday, June 9, 2009

Sterre wat nie skitter nie......of tog?

Raai-raai: hulle het ‘n mond, maar nie ‘n kop nie en dus ook geen brein nie. Hulle mag dalk die enigste diere wees met voete aan hulle arms!

Hulle is…..seesterre!


In die restaurant van die vakansieoord op Vancouver Eiland, was daar ‘n allerpragtige vistenk met die interessantste seediere.

Onder andere die mees verstommende veelkleurige seesterre wat ek nog kon beskou!

Seesterre se ‘stervis’-benaming is verkeerd. Hulle is nie visse nie – behoort nie eens aan dieselfde dieregroep nie.

Hierdie ou, het ek geskat, was 'n goeie 35 cm in deursnee.


Hulle het nie bloed nie, maar gefilterde seewater vloei deur ‘n buisstelsel in die liggaam. Dié kan hulle in hul buisvoete (tot soveel as 15 000 en wat onder aan die arms sit), inpomp om die voete uit te rek. Spiertjies trek weer die buisvoete, wat aan die onderkant vol suiers is, saam en so beweeg seester se kind in enige rigting wat hy wil.

Oë het hulle wel: sulke klein rooietjies wat op die punte van die sterarms sit en nie goed kan sien nie, maar wel tussen lig en donker onderskei.

Hieronder is die Pycnopodia helianthoides oftewel die Sonneblom Seester.

Normaalweg met ‘n deursnee van so 65 cm, maar sommiges het al meer as een meter oorlengs gemeet! Normaalweg ongeveer 24 sagte arms.

Hierdie ou is die grootste en vinnigste seester – kan tot 3 meter per minuut skuif.

Met ‘n mond wat in die middel onder die lyf sit, vreet hulle skulpdiere, klein vissies en seeslakke. Onthou ons nie van kleintyd af tydens ons seevakansies daar op die rotse, hoe moeilik dit was om oesters of mossels oop te breek nie?

Die seester draai eenvoudig sy arms om die geskulpte prooi en trek dit effens oop. Dan doen hy iets wat mens skaars kan bedink: hy stulp sy maag deur sy mond uit en sekuur in die oopgetrekte gleufie van die skulp in, waar hy die skulpdier binne in dié eie ‘huis’ verteer. Dan sluk die meneer sy eie maag ewe mooi netjies terug – en dit alles, sonder ‘n brein om hom voor te sê!

Ruk ‘n vyand miskien sy arm af, groei hy sommer een-twee-drie ‘n nuwe een in sy plek. En bly daar net ‘n ou stukkie arm oor ná 'n ondersese onderonsie, dan groei hy sommer ‘n hele nuwe een van homself! (sukkel g'n niks om homself te kloon nie....)


Kan nie anders genoem word nie -- die vlermuis-seester. Kyk al die suiertjies onder aan die buisvoete, wat onder elke arm langs streep.


Is dit nie die verruklikste kleure nie!


Waarlik: seesterre, net soos die sterre aan die hemeltrans, skitter –- en wel op hul eie en baie besonderse manier!

3 comments:

Mariette. said...

Wow dit is pragtige kiekkies!
Ek het nie geweet 'n see ster het oogies nie,- het nou sommer baie hier geleer.

Lekker week
groetetjies

Anonymous said...

Great prentjies, never knew die goeters is so interesant, mens.
C'la

mariki said...

Dankie, Vlooitjie -- was met my dieselfde toe ek lees oor die diertjies.

C'tjie, is waarlik verstommende "goeters".