Tuesday, June 30, 2009

My Nelly vir sy Jack

Aggenéé, aggenooit!

Kyk, ek vermoed vuilspel in my tuin.

Baie jare al het ek begeer om ‘n clematis te plant. Van alle kante het ek hulle by kwekerye en in tuine en parke bekyk en bewonder. Nou nie almal nie, dis nou, bewonder nie. Veral nie dié met so ‘n dowwe, neerdrukkende begrafnispers blom nie.


Maar o, defnitief het ek met die oog so gevang-vang na die Nelly Moser se kant toe. Dáái ene sal in my tuin pronk, dit het ek sommer net gewéét.


Besluit toe verlede jaar met groot oorleg waar ek vir Nelly gaan laat stoelmaak en rank. Lees op oor groeiwyse, bestudeer plantmetodes en gewapen met my oorwoë kennis, maak ek haar een sonnige Saterdagoggend liefkens op haar eie en spesiale plek staan, met haar geliefkoosde beenmeel om die wortels gestrooi.

En Nelly stel nie teleur nie. Net so hier aan die einde van die groeiseisoen, beloon sy my bewondering en waardering met ‘n pragtige, ragfyn trossie van drie fee-agtige, sagpers blomme wat my opgewonde na Vennoot laat roep om hierdie mooite saam met my te kom waardeer. ‘n Jarelange gedagteblom se ware swier is toe mooier as wat ek my kon verbeel het.

En die winter het gekom en die winter het gegaan en Nelly kry haar lentekos en so wag ek weer met opwinding dat die bykans 15 nuwe knoppe moet oopmaak.

Dog met ons terugkoms van Kalifornië af verlede week, is dit waarrempel nie Nelly wat ons inwag nie, maar….Jack! En hoe lyk hierdie indringer van ‘n Jack miskien….?

SO:
Clematis Jackmanii

Sowaar daai dowwe, neerdrukkende begrafnispers-spesie wat ek nie wil sien nie – in elk geval nie in my tuin nie en defnitief nie waar ek my Nelly geplant het nie.

Nou kyk, dit kon gewees het dat ek maar net die verkeerde plant by die kwekery gekoop en kom plant het. Maar Vennoot het dan verlede Augustus saam met my die drie pragtige lilapers blomme gestaan en bewonder!

Daar bly dus net een moontlikheid oor: iemand het my Nelly kom omruil vir sy Jack.

Maar wie???

8 comments:

Dané said...

Haai mariki, ek is weer baie lief vir daardie kleur.

Baie oulik stukkie!

mariki said...

Hmmm Dané,so verskil mense se smaak en dis tog wat die wêreld interessant maak, né.

Dankie vir die waardering.

Sonja said...

Dis grappig! En dit het al met my ook gebeur- gaan kwekery toe en vra vir n regte kersboom en van domgeit eindig ek toe op met n sipres! Gelukkig is ek nou slimmer met plante as toe. Ek deel jou passie vir plante!

mariki said...

Mooi Sonja, laat ons ons verset teen die plantbedrieërs!

Anonymous said...

Vriendin, geniet tog net die feit dat die plant wil blom!

C'la

mariki said...

Hoe skaam kry ek nou, C'tjie....

Jan and Miekie said...

So iets sal my ook baie omkrap! Partykeer voel dit mos of niks reg wil uitwerk nie. 'n Mens beplan baie, spaar baie, gee dan die geld uit...en dan is dit 'n flop. Ek het omtrent 'n lank rits flops gehad hierdie winter en is nou te bang om iets te koop. Van al my klerekasbeplanning (vir die eerste keer in my lewe) kom daar regtig weinig tereg. Wat 'n vermorsing van tyd, energie en geld!

mariki said...

Dankie vir die simpatie, Miekie! Maar wat ek nou uitgevind het, is dat ek waarskynlik die verkeerde plant gekoop het (het wel die Nelly Moser se kaartjie bygehad), en dat die Jacmanii se eerste blomme wel ligpers kan wees!! (Het darem geweet niemand het my plant gesteel nie -- Amerika is nie die hemel nie -- allesbehalwe!-- maar normaalweg gebeur so-iets darem nie sommer nie.