Monday, June 15, 2009

Lente-luigeit

Vandag was ek bewolk, bedot en bedinges. Behóórlik.

Ek skaam my eintlik om daarvan te vertel, maar terwyl ek nou begin het, laat ek maar deurdruk….

Vandag se dag het ek begin met Operasie Lenteskoonmaak. Nou kyk, afgesien daarvan dat ek nie meer 'n lentekuiken is nie, hou-ek-nie-van-huisskoonmaak-nie. Punt. En uitroepteken.

Dis so 'n sinnelose aktiwiteit -- oor drie dae kan niemand meer sien dat daar gister-eergister afgestof was nie en dan moet ek alles weer oordoen met die wete dat oor drie dae weet niemand WEER nie dat ek my hier afgesloof het nie. Nie dat iemand noodwendig hóéf te weet wat ek doen nie ---- ek is nie eersoekerig nie, maar ek verpes roetine en herhaling.

Nie dat ek baie daarvan doen nie – van die afstowwery nou nie.

Maar so twee maal 'n jaar moet die plek van bo-tot-onder en van hoek-tot-kant bietjie aandag kry. Al is dit net sodat ek vir 'n maand lank heerlik in die skoon huis kan bly met die gevoel dat ek dit verdien; ook sodat ek vir die ander vyf maande, tot die volgende suiweringsessie net bolangs kan verbyflerts met afstof en bietjie-se-byhou; maar óók is dit omdat ek my oorlede ou moederma se nagedagtenis in herinneriing wil roep ---- sy wat so wonderlik skoon en netjies was met g'n van een lui haar op haar kop nie.

En so met die Spring cleanery-saam, voel ek dat ek darem níé glad-nie na haar aard nie, al is dit net so 'n knertsie-van. En dis 'n goeie gevoel. Want glo my, wanneer ek klaar is, kan ons in hierdie huis van die vloere af eet (soos dit elke liewe week by Oumoeder die geval was, bygesê.)

Maar vroegoggend al toe steek my rugprobleem kop uit en met dié dat hy seerder raak, raak ek al jammerder vir mysigselwers en hoe verdrietiger ou Aspoestertjie voel, hoe kwater raak sy sommer op die koop toe vir alles en almal. Met geen stieffamilie eens in sig nie.

Lekker kinderagtig, lekker ondankbaar en sleg sondig.

Want ek is nie lam nie -- ek kan die stofsuier stoot en die stoflap vashou; ek is nie blind nie --- ek kan sien waar ek moet werk; ek is nie haweloos nie --- ek werk in my eie mooi huis.

Moet net nie dink toe ek myself so katkiseer dit het dinge beter gemaak nie. O nee, toe is ek boonop kwáád vir myself. Oor my sonde. Én oordat ek nie so fluks soos my ma is nie. Én oordat ek nie die “swaarkry” met lekkerkry wil klaarkry, op Langehoven se patroon nie.

Maar miskien, net miskien….as dit die uitwerking is wat Spring cleaning op my het, dink julle nie ek moet dit nou maar in die toekoms net eenvoudig heeltemal los nie…?

11 comments:

Muriel said...

Mariki, ekke dink jy het sommer op jouself ook spring cleaning gedoen. LOL Ons kry maar almal hierdie dae waar ons erg omgekrap is!!

Ek het jou inskrywing baie geniet!!!

Hoop jou rug voel beter!!

((((Mariki)))) ek dink jy is baie special!!

Jan and Miekie said...

Jou fotos wys allesbehalwe luiheid! Ek twyfel of ek selfs op my fluksste dae so die stoele sal optel! Jy laat my skuldig voel - en ek hoop hierdie erkenning laat jou beter voel! Ek haat ook die roetine en die doen dit alweer, maar more kan jy nie sien wat ek gister gedoen het nie. Ken so die gevoel. Maar ek wed jou jy het GOED gevoel toe jy klaar was - seer rug en al. (Hoop die lyf voel beter? Diclofenac help nogals.) Nou mag jy maar dit kalm vat vir 'n paar dae, solank jy net aanhou blog! (Die word verification is "rewinind" - nie seker of dit te make het met rewind nie of is dit dalk wining?)

Nimsi se Blog said...

mariki,
ai ek het nou lekker gelag hier by jou jong! Ja "lente - skoonmaak" bly maar n groot werk... die dat ek dit weekliks doen... nie omdat ek so fluks is nie, omdat ek nie kans sien om dit alles op eenslag te doen nie.

Anonymous said...

Ha-ha maat, jy ken my, ek gaan jou beslis nie kom help nie. Maar moenie worry nie, jy aard meer nou jou liewe ma as wat jy sal dink.

mariki said...

Sooo reg, Muriel! En dankie vir die liefde.

mariki said...

Miekie -- ek is 'n mengsel van wees en nie lui wees nie! En dis GROOT skoonmaak, agter portrette, bo-op deure, en gordyne was, EN SO VOORT...Ha!

Voel beter ja dankie. Sal bietjie opkyk van D'nac -- het hier mos ander handelsname vir dieselfde produk as daar.

Reg -- klaar 'gewine' en gaan nou 'rewind'!

mariki said...

Jy werk op Oumoeder se plan, Nimsi!

C -- is DIT nou wat mens vriendskap noem!!

Jan and Miekie said...

Hi dis weer ek - Wou nog se jy het die mooiste gordynstof in jou kamer. En die riempiesbankie kom seker al die pad van "Ouland"? Ek's mal oor sulke bankies.

mariki said...

Miekie, dankie. Ek is GEK oor daardie meroen-rooi-juweelkleur. En ja, dis 'n Knysna-bankie!

Anonymous said...

Ha hahaah! Ek het jou artikel so baie geniet! Ek voel ook so oor huis skoonmaak, jy laat my soveel beter voel!

Groete
Sonja

mariki said...

Hallo, Sonja! Worstel met die skoonmaakding, jong.