Sunday, June 28, 2009

El Pueblo de Nuestra Señora la Reina de los Angeles de Porciúncula.

El Pueblo de Nuestra Señora la Reina de los Angeles de Porciúncula.

Overgesetsynde:
The Town of Our Lady the Queen of Angels of the Little Portion.

Soos ons dit ken: Los Angeles.

Dis waar ons verlede week omrede van sake ‘n vinnige draai gaan maak het.
(Sommige van die foto's is van 'n publieke domein webwerf af.)

Die Walt Disney konsertsaal.

'n Kantoorgebou met 'n vierkantige gaat in die middel.

Van ver vandaan in die geskiedenis kom LA. Was eers Spaanse goedere hier so teen die einde van die 16e eeu, daarna Meksiko s’n toe dié onafhanklik word van Moedertjie Spanje, maar toe die Merikaners die Meksikaans-Amerikaanse Oorlog in 1848 wen, is dit klaarpraat vir LA en Kalifornië. Oftewel, Ingelspraat is toe aan die orde van die (Amerikaanse) dag.

Gewoonlik dink mense dadelik aan Hollywood wanneer die Stad van Engele ter sprake kom. Nou is dit so dat Los Angeles en omgewing veel, en baie meer is as net te doene met Hollywood:

* Dit word as die entrepeneurshoofstad van die wêreld beskou, met sowat 200 000 kleinsake-ondernemings. Dit is twee maal meer as op enige ander plek in die VSA.

* In terme van bruto nasionale produk is Los Angeles County (nie die stad alleen nie) s’n die 11e grootste ekonomie ter wêreld (hmmm, so DIS wat die inkomste uit die silwerdoekbedryf teweegbring), en wel groter as dié van Nederland, Suid-Korea en Mexico --- en lê net agter Kanada, China en Spanje!

* Dit is die besigste Amerikaanse hawe as dit kom by die hantering van skeepshouers.

* Los Angeles County beslaan dieselfde land area as die staat van Connecticut en het net soveel mense as die hele Michigan -- 10,393,185.

* Los Angeles stad spog met 90 teaters en meer as 300 museums – die meeste van enige Amerikaanse stad.

* Die weer in LA is total iets op sy eie. “Smog” is op die ergste in die somer, maar so ook mistigheid (wat deel van die smog uitmaak).

Só het ons dit gesien -- hulle noem dit "June-gloom". Die helder sonskyn was slegs vir sowat vyf ure genietbaar.


Daar is dae in Junie dat die mis op die strande glad nie optrek nie en mens sou glo jy is eerder in London as Kalifornië!

Terloops. die stadsbewoners staan bekend as Angelenos (wat rym met al die casino’s).

'n Klein inham-strandjie. Wonder of die pappies die kindertjies vir die mammies oppas terwyl dié swem?

Santa Monica-strand, waar, soos hulle vertel, die "gewone" mense probeer strand hou. Net suid is Muscle Beach waar die spierknopmanne uithang en net noord Malibu, vertoonplek van die rykes en beroemdes.


Los Angeles lughawe uit die vliegtuig uit. Dis nou een keer wat ek nie sal hou van "strand toe gaan" nie -- so met 'n vliegtuig wat nie sy stop kan kry nie.

Ten spyte van die palmboomprentjies, is die omgewing maar redelik droog, met 'n reënval van net 34mm per jaar.

In die rigting van Belair.

Die heel slegste ding van in LA te woon, is die verkeersnagmerrie: dit bly stad nommer een in die VSA wat verkeersprobleme betref. En wel omrede van die baie mense, ook lae-digtheid behuising en te min openbare vervoer.

En dis hoe hulle die probleem probeer oplos. Maar laasweek Woensdag so teen drie-uur die middag, sit ons vas in die verkeer -- en dit met SEWE bane in elke rigting!!

Ek hoop hulle het darem vir hierdie beplanner 'n prys gegee...

8 comments:

Nimsi se Blog said...

Mariki,
Daai "smog" sal my asmapompie laat oortyd werk! ek kan nie eers in n toegestoomde stort asem kry nie! Die verkeer... ek kla nooit weer oor Johannesburg verkeer nie!

Dankie vir die kersfees "reminder" ek kan self nie glo hierdie jaar is halfpad nie!

Lekker week

Oom Petrus said...

Hallo Mariki,
Ek staan verstom. Om in so 'n plek rond te loop sal ek ook die heeltyd my kakebeen met die hand moet vashou anders hang hy dalk die heeltyd oop...moeilikheid met vlieè
Groete

Dané said...

Aggenee -- om met daardie smog saam te leef. Dit het ons ook getref toe ons daar 'n draai gemaak het 'n paar jaar gelede. En ook die verkeer was 'n nagmerrie.

mariki said...

Ai-ai Nims -- ek is baie bly jy woon nie in LA nie! En ja, daai verkeer...mens het altyd rede tot dankbaarheid, né, selfs in Jhb.

OomP, ek dink die smog versmoor die vlieë ok!

Ja Dané, dis darem twee groot negatiewes vir 'n woonplek.

Mariette. said...

Ai dankie vir die deel,- As ons eendag groot is wil ons ook daar 'n draai gaan maak.

Die smog ding is nogal 'n storie , maar ek dink dit is seker maar dieselfde wat ons hier het, want soms wanneer jy by die venster uitkyk lyk dit ysig koud net sodat jou babubel gebars moet word, wat die tempratuur buite is oor die
45c.- so ons is al semi gewoond aan 'n smog ding...

dankie vir die mooi kiekkies

mariki said...

"...wanneer ons eendag groot is..." -- Ha-ha, Vlooitjie!

Julle ken smog, en LA se hitte is beter, dus kan julle net wen met 'n kuier daar.

Jan and Miekie said...

Ai Mariki, wat 'n voorreg om so te reis! Dankie vir al die interessante gegewens oor L.A. As 'n mens die smog en verkeer so kyk kan 'n mens net se "Oos Wes tuis bes"!Die tuin daar op die Kanadese eiland is eenvoudig wonderskoon! Dit vra darem toewyding! Het ook die inskrywing oor die engelbaba baie aangrypend gevind - amper soos my sus Elsabe se kleinkind Josh - sou ook direk na geboorte 'n operasie moes he, sou 'n "koolkop" wees ens. en niks daarvan het gebeur nie. Hy is 'n pragtige woelige kleuter. Tot die lelike wynrooi vlek op sy gesiggie het verdwyn en die te groot tong het gekrimp. Ons het 'n Almagtige Vader wat enige wonderwerk kan laat gebeur waar mense glo en 'n pad met Hom stap.
Oor die kersgeskenke - nee wat - dis darem nog 6 maande - maar ek hoor wat jy se - as ons weer sien is dit net 6 dae!

mariki said...

Hallo Miekie, en dankie vir die geselsie -- waardeer altyd jou kuiertjies baie!

Ja, een ding staan vas en verander nooit: ons God is GROOT.