Thursday, January 22, 2009

Afgedankte verdriet

Dis nou laataand se halftwaalf en ek weet sommer: vannag gaan daar min kom van slaap.

Ek het regtig nie laasnag te veel geslaap nie, ek kry genoeg oefening en ek makeer genadiglik niks nie – maar ek is siek. Ek is siek en ontsteld en my hart huil oor die ellende en swaarkry en droefheid in hierdie wêreld – opnuut vir my onderstreep deur die gesprek netnou met ‘n vriend uit Portland, Oregon uit, oor sy ervaring vandag.

Hy beklee ‘n goeie pos by ‘n sterk nasionale maatskappy wat ook buitelandse belange die wêreldoor het. Gister het hulle gehoor dat die St. Louis-kantoor in Mississippi 80% van hul werknemers afgedank het, en vandag moes hulle self, 60% van hul personeel summier laat gaan. Vir die eerste keer in sy leeftyd, sê hy, het hy iets beleef wat hy nooit gedink het hy sou sien nie: kollegas wat in die gange van die gebou rondstaan en huil, hardop huil.

Ag mense, ek het nie woorde nie…

En toe, teen die einde van die dag, is daar ‘n klein afskeidsfunksie gehou, versnaperings en drank is bedien. En die afgedankte manne – en vroue – het gedrink. Meeste meer as te veel. Om hul sorge te versuip.

Ek huil oor daardie mense se probleme en hul nood.

En ek huil ook oor die ellende van mense wat geen ander heenvlugplek het as om te diep in die bottel te kyk nie, Want môre wanneer hulle wakker word, gaan hulle immers nog steeds werkloos wees. Hulle rekeninge gaan nie oornag betaal wees of die skok van werkloos gelaat wees, met dalk ‘n gesin om te versorg, in die niet verdwene nie.

Maar…hul heenkome gaan hulle dalk nog steeds nie by die Bron van Lewende Water soek nie.

Ek huil oor die tragiek van mense wat werkloos, maar bowe-al, Godloos is.

8 comments:

Nimsi se Blog said...

Het hierdie "monster" ons verlede jaar drie keer aangeval - werkloos...
en ja hardop huil- die het ons gedoen! Kan my nie vir een oomblik voorstel hoe ons deur dit alles sou kom sonder God nie. Dink saam en bid saam met jou vir al hierdie mense.
Nimsi

Anonymous said...

Ag, dis hartseer, Mariki. Weereens voel mens vir die families, veral die kinders.

Oom Petrus said...

Mariki, Jy praat nou van 'n baie hartseer ding. Iets wat ons almal in die gesig staar in die tyd waarin ons lewe. Eintlik kan ons net sê, Ek slaan my oë op na die berge, waar sal my hulp vandaan kom? My hulp is van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Ons kan maar net op Sy skouer gaan huil en aan Hom vashou...!

Desia said...

Ai Mariki, mens kan net saamhuil en dan gelukkig ook saambid, vir die spesifieke mense, maar eintlik almal wat verlore is.

Anonymous said...

Lekker naweek!

mariki said...

O Nimsie, dit moes 'n geweldige ervaring gewees het. Sooo dankbaar julle ken die Here EN Hy sorg!

Jips, Boendoe, altyd weer die kinders...

Diep gesê,OomP.

Dankie, Desia -- bly om weer van jou te hoor.

Sal so maak, Tersie!

ellievd said...

Ja, dis baie hartseer... My dogter kom alweer oor 'n wwek terug huis toe. Sy het darem so werkie in Breckenridge gekry, maar eers van die begin van Januarie af en nie naastenby waarop sy gehoop het nie. Maar sy kan darem terukom na my toe in SA wat vir haar sorg. My hart gaan uit na al hierdie mense wat seker 'n jaar terug nooit sou kon dink dat dit met hulle sal gebeur nie.

Mens hoop maar net altyd dat daar iets goeds daaruit kan voortvloei en dat ten minste sommige sal besef waar hul krag en toekom lê en hulle weer na Jesus en Sy verlossende genade sal wend.

mariki said...

Ja, Ellie, ook maar goed mens kan nie in die toekoms insien nie.

Bly jouse meisiekind is amper terug! Dit was voorwaar 'n wonderlike ervaring.