Monday, January 19, 2009

Wonderwerk op die water

Die noodlanding verlede week van US Air se Vlug 1549 op die Hudsonrivier, word bestempel as een van die mees verstommende ongelukke in die geskiedenis van lugvaart – en as ‘n wonderwerk.
Ongetwyfeld is Chesley Sullenberger ‘n top-vlieënier wat sy jarelange vegvlieënierskennis, sy stokperdjie-ervaring met sweeftuie en sy sakevernuf rakende lugvaartveiligheid ten beste gebruik het toe hy die ou grote, buik eerste op die rivier “te water gelaat” het. En dit, net 3½ minute nadat die probleem onstaan het.

Hy is (en word steeds) oorstroom met gelukwensings nie net plaaslik nie, maar vanoor die hele wêreld – o.a. ook van tallose internasionale mede-vlieëniers.

Hy moes blitssnel dink toe beide motore tot stilstand geruk is deur die botsing met ‘n trop Kanadese ganse. Dit het hy dan ook gedoen en met perfeksie sy Airbus stert eerste in die water laat “land".

Die koerante se mening is, dat afgesien van Sullenberger se asembenemende bekwaamheid, is hy deur die geluksgodin toegelag, want:

1) sou daardie twee motore enkele sekondes vroeër of later afgesluit het, sou die vliegtuig soos ‘n stuk lood geval het;
2) sou die lugwaardin die agterste deur waarmee sy gesukkel het, oopgekry het voordat sy die passasiers liewer vorentoe laat uitgaan het, dan sou die instromende water die vliegtuig net daar na onder begin druk het;
3) sou die weer slegter gewees het met ‘n sterk wind en golwe op die rivier, kon sake baie erger verloop het;
4) sou daar enige van die gewone Hudson-verkeer (bote, helikopters, klein vliegtuie) in sy pad gewees het, dan was dit ‘n krisis;
5) sou daar nie so baie bote en reddingsvaartuie in die nabyheid gewees het nie, kon die wonderwerk in ‘n tragedie omgesit het.

“Geluksgodin”, “sou” en “as” word deurgaans gebruik, en die kruks van die saak word weergegee as “Sullenberger en sy bemanning het nie ‘n 2e kans nodig gehad nie. Hulle het reggekom met net een, dankie.”

Nou wonder ek so by my sigselwers: siende dat die koerante geen woord rep oor die genade van die Here wat hierdie wonderwerk moontlik gemaak het nie, sal Chesley Sullenberger wanneer US Air hom toelaat om met die pers te praat, hulle dalk weerspreek oor die “geluksgodin” en “sou” en “as” ?

Ek hoop met ingehoue asem so. Indien nie, dan is dit klinkklaar dat hy en sy span WEL ‘n tweede kans nodig het – om uit te vind Wie se werk die wonderwerk nou eintlik was.

3 comments:

Anonymous said...

Ja, sjoe, ek het ook op Sky News daarna gesit en kyk. Ek dink nie jy moet bekommerd wees nie. Sal mens regtig so iets oorleef en nie 'n Hoer Hand daarin sien nie? Ek twyfel.

Oom Petrus said...

Mariki,
Die vlieenier was fantasties. Hier by ons is daar onder andere ook gese. Tydens die krisis en die landing het die passasiers almal saam gebid. Ek glo dit is wat alles so vlot laat verloop het. Nie 'n geluksgodin nie maar die ware lewende God.
Groete

mariki said...

Boendoes, jy sal jou asem insluk as jy hoor hoevele mense se lewens het al aan 'n dunne draadjie gehang en as hulle deurkom, dan is dit nou maar so.

OomP -- dankie.