Thursday, January 8, 2009

Feder, penna, piuma, plume, feather….


….in your cap.

Maak nie saak in watter taal ek dit doen nie, maar eintlik WIL ek dit spesifiek op Afrikaans doen: met groot deernis gee ek vandag 'n pluimpie aan AL my blokmaats uit Ouland.

Nee, ek wil MEER as net dit doen: ek wil waarlik hulde bring aan julle en die manier waarop julle julself handhaaf onder omstandighede waarvoor ek met vrees/woede/beredenering/jare se oorweging/binneworsteling/diep gebed, nie kans gesien het/nie voor lus was/vernederend gevind het/nie kon sien as oplosbaar nie.

Ons wat die besluit geneem het om te verhuis, (…hmm, vergun my vlugtig hier ‘n minder ernstige toon… sommige van ons raak op onwaardige wyse -– en maak seker jy lees hom reg -- “snotbokkers”….) het diep medelye met ons ouers/familie/vriende wat nog daar woon; ons bid gereeld vir julle, ons huil soms, ons wroed oor die dinge daar. Maar as ek eerlik moet wees, dink ek nie selfs ons -– wat tog wesensbegrip het vir wat daar aangaan -– kan op daaglikse basis julle kop-bo-woeste-stormwater-probeer-hou, ons eie maak nie. Dis immers net wanneer mens self deur die dorings kruip, dat jy die bloed voel loop.

Ek bewonder jul aangaan-met-die-lewe, jul normale blokgesprekke, jul betrokke wees by die lewens van ander, en dit, terwyl jul eie, onder ‘n onontkombare donker wolk geleef word.

Ek waardeer jul belangstelling.

Ek sê nederig dankie vir jul toegeneëndheid.

Ek salueer julle met diepe erkentlikheid.

Ek pleit ons God se genade vir Ouland en sy mense.

11 comments:

Jan and Miekie said...

Miskien is diegene van ons wat nog hier is, net gelukkig gewees om van die negatiewe dinge te kon vryspring? Iemand het eenkeer teen my motorruit met 'n klip gekap en ek het groot geskrik, maar dis die ergste "misdaad" wat my persoonlik nog oorgekom het. (Ruit het nie gebreek nie.) Ons bid ook maar baie vir ons land, want hier is nog baie rasse vooroordeel - aan alle kante. Maar die meeste mense - aan alle kante - is gematig en wil net liefde en vrede he. Ek dink die grootste krisis nou is die ekonomie en al die afdankings (en uitkringende armoede) wat dreig. My kinders is aan't huis koop, die kleinkinders gaan "skool" toe, ons het nog werk, dit reen. Die lewe is nog lekker hier, maar ons sidder rerig oor Zimbabwe!

mariki said...

Rasse-gevoelens: sal (omdat dit sonde is), tot aan die einde met ons wees. Sluit hierdie land hier diekant nie uit nie.

God seën grootliks te midde van soveel negatief, né. Ek het eintlik verwys na die decor waarteen die SA toneel afspeel.

Nimsi se Blog said...

Hello mariki,
was self ook nog tot dusver baie gelukkig om die "misdaad" vry te spring! In my daaglikse omgang met mense (alle rasse en klasse) kry ek gelukkig ook min te doen met rasse-gevoelens... baie dankie vir hierdie veertjie, ontvang dit met groot eerbied!
Lekker bly
Nimsi

mariki said...

So dankbaar, Nims. En ja, soos Miekie sê en jy daagliks ondervind, gewone mense wil maar net aangaan met hul lewens en gun dit vir andere ook.

Anonymous said...

Ai, Mariki, jy het trane in my oe gesit.

Ek was nou juis besig met 'n posting oor 'n ontmoeting met 'n baie arrogante Nieu Zealander. Swart op wit klink dit nou verskriklik kinderagtig, maar dit het my ongelooflik ontstel. Daar is geen verweer teen alles wat voor Afrika se deur gele word nie. Nogtans...

Ek weet nie. Geskiedenis sal leer of ons besonder braaf was - of besonder onnosel.

Dankie vir 'n mooi possie. Dit was goed vir my siel.

mariki said...

Boendoes, ek MOES dit net sê. Bly ek kon ietsie vir jou doen.

Skitter said...

Jou Blog op my sus se Blog, Aikona raakgeloop. Jy skryf so vloeiend soos 'n lekker opgeruimde musiek blyspel.Het jy vandag se Beeld gelees? Daarin is 'n brief in artikel vorm wat 'n Oulander skryf vir al haar 'getrekte' geliefdes

mariki said...

Hallo Skitter! Wat 'n fantastiese naam het jy gekies! Ek sien jy het 'n blok, en sal daar gaan rondloer, ook na die brief in die Beeld. Diep saak, hierdie. Maar ons God is in beheer, en Hy slaap of sluimer nie.

mariki said...

Skitter, ek het die brief gelees, en dink dit is besonder netjies en nugter. En bowendien: ons is waar ons moet wees omdat dit is waar die Here vir ons werk het, né.

Anonymous said...

Ek worstel juis nou daarmee...bly ek of gly ek. Moeilike besluit vir my.

mariki said...

Alle sterkte, Carina!