Tuesday, January 13, 2009

Plek van die wit wonderwater


Kort ná Kersfees moes ons eendag gou van Toronto af deurry Niagara Falls toe. Daar is twee dusdanige dorpe: die Kanadese een in Ontario en sy maatjiedorp aan die Amerikaanse kant van die rivier, in New York Staat. Maak toe sommer gou ‘n draai by die rivier om te kyk wat van die grootwaters te siene sou wees, dog kon weens die mistigheid van 'n bewolkte winterdag, hul donderende gerommel maar net op ‘n afstand beluister.

Gelukkig het ons hulle by ‘n vorige geleentheid in hul volle glorie kon bewonder – en glorieryk en soveel meer, is hulle voorwaar!

Die Perdeskoenvalle is aan die Kanadese kant, en die ander valle staan dan uiteraard bekend as die Amerikaanse valle. (Vir een keer is alles wat groter en mooier is, nie Amerikaans nie!!)




In die aand is die Amerikaanse valle ‘n feetjieland-skouspel.


Die valle is nie so hoog soos die Victoria waterval nie, (waarvan die vloei sowat 1¾ keer soveel is as Niagara s’n), maar op breedte baie indrukwekkend. Dit is die kragtigste waterval in Noord Amerika en ‘n kosbare bron van hidro-elektrisiteit.

Die Niagara Rivier is op sy diepste net onderkant die valle – 52m (170 vt) – en dis net so diep as wat die valle hoog is! Stel jou voor.


En wat ‘n wonderlike groen kleur is die water nie van naby nie! Dit is te danke aan die water se erosiekrag, sodat na beraming sowat 60 ton opgeloste minerale elke minuut saam met die water na benede stort. Die mineraalstof kom van die kalksteen in die rivierbedding, asook skalie en sandsteen.


Die verstommende volume water hou nooit op met vloei nie. Dog, in die winter veroorsaak die vallende water en die mistigheid ysvorming op die walle van die rivier, wat tot 50 vt hoog kan opbou. En indien die temperatuur lank genoeg, laag genoeg sou bly, kan daar dwarsoor die rivier ‘n “ysbrug” vorm wat verskeie myle stroom-af strek.


Tot in 1912 is besoekers aan die valle jou werklikwaar toegelaat om op die ysbrug rond te loop en die valle van onderaf te bewonder! Op 4 Februarie 1888 berig die plaaslike koerant: “At least 20,000 people watched or tobogganed on the ice. Shanties selling liquor, photographs and curiosities abounded.”

Maar twintig dae later breek die ys onder drie toeriste en verdrink hulle in die yskoue water.

Mense bly maar waagmoedig (of dom?), want toe ‘n samepakking van ys hoërop in die rivier op 29 Maart 1848 die vloei van die water heeltemal tot stilstand bring (die enigste keer wat dit nog ooit gebeur het), wandel die “dapperes” in die rivierbedding rond en tel allerhande soeweniers op. Brrr... sê nou net daai ys doer bo-langs in die rivier het skielik padgegee...nee dankie; my ma het my mooi geleer om nie eens in leë stormwaterpype te speel nie.

8 comments:

Jan and Miekie said...

Jou gelukkige mens! Om al hierdie prag te kon sien!

mariki said...

Is die Here se handewerk nie fantasties nie!! (Dink net hoe verstommend gaan die hemel wees.)

En ja, ek is 'n geseënde mens -- Sy goedheid alleen.

Sandra said...

Dis baie mooi daar Mariki, dankie dat jy dit met ons gedeel het

mariki said...

Dit is 'n belewenis, Sandra.

Nimsi se Blog said...

ASEMROWEND!! En om te dink dat ek HOM wat dit alles gemaak het my Vader mag noem!
Nimsi

mariki said...

Daar sê jy nou 'n ding, Nimsi!

Oom Petrus said...

Mariki,
As mens hierna kyk dan kom jy weereens onder die oortuiging van God se Grootheid.
Hoe kan mense steeds dink dat dit alles nie deur God geskape is nie, maar deur 'n "big bang" ontstaan het

mariki said...

Dis sooo 'n lagwekkende teorie, Oom P; maar dan versober dit 'n mens om te weet die ondersteuners daarvan gaan ewiglik betaal vir hul vashou daaraan.