Monday, January 12, 2009

Ongelooflik!



Twee dae na Kersfees het die 64-jarige Janice Goodger van Minnesota op haar veryste motoroprit geval en weens haar erge artritis was sy nie gebore in staat om orent te kom en op te staan nie.

Desperaat het sy haar rug opgelig, en in die diep sneeu “soos ‘n krap” die vyftig voet na haar motor toe gesukkel. Teen hierdie tyd was haar klere deurweek en haar laaste kragte gedaan. Dit was besig om donker te word en die temperatuur van -5C was besig om te daal. Sy het haar bewussyn verloor.

So het haar dogter haar ná vier ure, om 9-uur die aand aangetref en hulp ontbied. Binne minute was die abulanspersoneel daar, net om te toe te sien hoedat Janice se hart ophou klop. Maar dié gesoute manne het presies geweet wat om te doen. Hulle het onmiddelik met borskasmassering begin om die bloed te help sirkuleer, om so brein- en ander orgaanskade te voorkom. Hulle het ook geweet dat hulle nie moes probeer om die hart weer aan die gang te kry nie, omdat haar liggaam yskoud was.

In die hospitaal het haar temperatuur van rondom 25C na 16C geval. “Sy het dood gelyk. Sy was die koudste mens wat ek in my hele lewe gesien het,” het dr. Chris Delp, ‘n nooddiensveteraan van 13 jaar, vertel.

Met nog steeds geen hartklop waarneembaar nie, het die mediese span vir nog 45 minute die borskasmassering volgehou, terwyl warm lug deur ‘n pyp in haar keel gepomp en sy binne-aars warm vloeistof toegedien is.

‘n Kardiotorak-chirurg het haar bloed getap, dit verwarm en teruggepomp in haar are. Minder as twee ure later het hy haar hart weer aan die gang gesit.

Die dokters kon egter nie anders as om Janice se dogter te waarsku dat haar ma waarskynlik nie sou leef nie, en as sy wel sou herstel, sy neurologiese probleme sou oorhou.

Tot die verstomming van dr. Delp het hy Janice die volgende môre regop in haar bed aangetref, en het sy hom plegtig bedank dat hy haar lewe help red het. Verlede week kon sy huis toe gaan.

“Ek is ‘n kanniedood-Noorweër,” was haar afskeidswoorde.

Sy is van plan om skuurpapier onder haar skoensole te plak – “ek het dit jare gelede gedoen en dit het eersteklas gewerk.”

(Intussen het ‘n weldoener vir haar ‘n paar “ice cleats” gestuur om oor haar skoene te dra wanneer sy buite loop. Die kans is goed dat sy dit getrou sal doen.)

7 comments:

Oom Petrus said...

Mariki, 'n tipiese verhaal wat die grootheid en goedheid van God weerspieel. As Hy nie die kennis aan die mediese personeel gegee het nie, sou oorleweing haas onmoontlik gewees het.
Groete

Anonymous said...

Deursettingsvermoe! Dis my strewe vir 2009! Vrede en voorspoed vir jul 2009!

mariki said...

Sooo reg, Oom P! As hulle dit tog net maar wil besef...

Reg so, Ters! Doen jou ding.

Anonymous said...

Ek moet lag! So ou Kanniedoder!

mariki said...

Ja, sy het beslis woema.

Nimsi se Blog said...

Hello mariki, dit is nou so regte "raak-aan-die-hart" storie.
Lekker bly, raak die gas krissis julle enigsins?
Nimsi

mariki said...

Nee, Nims, genadiglik nie. En ja, as die liewe Janice maar wil besef die Here het haar 'n tweede kans gegee om voluit vir Hom te leef ('n verstommende ene), want haar woorde was: "I'm not overly religious."