Thursday, February 26, 2009

Musiek in my ore

Vandag is my hart bly soos net ‘n ma se hart kan blywees as sy hoor ‘n kind kom huis toe vir die vakansie – al is dit net vir ‘n ou korte wekie.

Jongste het laat weet sy vakansieplanne het verander. Goeie planne gehad vir “Spring Break”: hy was oorspronklik deel van ‘n span studente wat ‘n groep gestremdes in die Grand Canyon sou af- en opdra, maar die organiseerders kon nie al die los drade bymekaar trek nie en die trippie is uitgestel tot volgende jaar.

Ek is regtig jammer vir almal wat teleurgesteld is omrede van die mislukte planne; maar laat ek maar eerlik wees en erken ek kan nie my blywees onderdruk omdat ons nog ‘n keertjie saam met hom kan kuier nie!

Is mos nou al ‘n paar keer deur die ding van terugstaan omrede van nuwe geliefdes wat die lewens van ons kinders betree, en dis alles reg en mooi en goed so en ons geniet die uitgebreide verbintenisse, maar solank as wat ‘n ma kan hoor: “Ma, ek kom huis toe vir die vakansie,” LAAT SY DIT HOOR.

Tuesday, February 24, 2009

Van vry en vrieskasdeure


My sus se dogter is ‘n kombuistee aan die reël vir ‘n vriendin en skryf op haar blog oor die uitnodiging:

“As jy getroud is (of ook nie), bring jou beste huwelikswenk om vir Izelle te gee. Tog net nie sulke soetgoed soos ‘koester elke dag saam nie,’ –- pleeze. Julle weet tog mens voel soms om jou man in die vrieskas in te stamp en die deur te sluit. Nee, ek soek genuine goeie raad.”

By die lees daarvan dink ek hoedat ek in my jongdae aan ‘n tannie wat oor die 50 jaar getroud was, gevra het:

“Tannie, wat is Tannie se geheim?”

En haar antwoord het eers later vir my sin gemaak, toe ek ook al ‘n paar jaar lank saam in die juk getrek het:

“Ag my kind, waarom tog nou al die moeite loop doen om weer óór te begin saam met iemand anders?”

Dit klink sinies, maar moenie glo nie, dis eintlik baie diep!

Monday, February 23, 2009

'n Dodelike opdrag

Hy het jarelange vliegervaring gehad, is deur Genl. Dwight Eisenhower beskryf as “die beste Amerikaanse vlieënier van die Tweede Wêreldoorlog" en hy sou vandag 94 jaar oud gewees het – hy was Paul W. Tibbets, vlieënier van die B-29 bomwerper, Enola Gay, wat in 1945 die atoombom op Hirosjima gegooi het.

Op 3 Augustus 1945 is die 30-jarige Paul Tibbets aangesê om “Spesiale Sending no. 13” te onderneem.

“Toe ek die opdrag kry, het ek geweet daar sou ‘n emosionele prys wees om te betaal. Ek en my bemanning was nie onaangeraak deur die geweldige impak van die saak nie, maar moes noodgedwonge ons gevoelens onderdruk. Ons was in ‘n oorlog gewikkel, en dit was ons plig om daardie oorlog te wen.”

Hy sou die missie voltooi in sy bomwerper wat hy na sy ma, “Enola Gay”, vernoem het, uit waardering vir haar ondersteuning van sy ideaal om ‘n vegvlieënier te word teen die wense van sy pa in, wat hom in die rol van ‘n dokter gesien het.

Tibbets, kort voordat hy sou opstyg oppad na Hirosjima

Toe die Enola Gay kort voor dagbreek op 6 Augustus die lug in klim, het Tibbets sy pyp, ‘n paar sigare en ‘n houer met ‘n dosyn sianiedkapsules by hom gehad, vir geval die bemanning oor vyandelike gebied sou moes uitspring.

Sowat ses ure later het Tibbets die teiken gesien –- die Aioibrug in die middel van Hirosjima, ‘n Japanese weermaghoofkwartier.

Om presies 8.15 plaaslike tyd is die bom –- “Little Boy” -- afgegooi en 43 sekondes later het dit ontplof in ‘n inferno wat tienduisendes dood en sterwend gelaat, en die stad in ‘n smeulende ruïne verander het.

'n Na-oorlogse model van Little Boy

Tibbets het ‘n voorafbeplande duikdraai uitgevoer om die effek van die ontploffing vry te spring.

“Die reuse, pers sampioen het reeds tot op ‘n hoogte van 45 000 vt (13 716 meter) uitgekring, 3 myl bo ons eie hoogte, en het bly boontoe kook.”

Tot en met sy dood in 2007, het Brigadier-Generaal Tibbets –- wat ten spyte van groot heldeverering, in later jare die skyf geword het van vernietigende kritiek -– verklaar dat hy nooit skuldig gevoel het oor wat hy gedoen het nie. “Dit was ‘n opdrag; buitendien, ek het nie die oorlog begin nie, maar ek wou dit beeïndig. Nog ‘n miljoen of meer mense sou gesterf het as ons dit nie gedoen het nie.”

Brig-Genl. Tibbets in 2004 by die Enola Gay

Tog lees mens in sy biografie hy “ervaar ‘n gevoel van diepe skaamte vir die hele mensheid, wat deur die geskiedenis heen aanvaar het dat bloedvergieting ‘n geoorloofde manier is om geskille te besleg.”

Paul W. Tibbets het 'n onuitwisbare rol in die geskiedenis van die mensdom gespeel; maar iemand moes dit doen, en reg of verkeerd, dis onbetwisbaar dat hy die taak wat aan hom opgedra is, met durf en waardigheid uitgevoer het.

Wednesday, February 18, 2009

Tawwe ene, hierdie

Die handjie van 'n gearborteerde 7 week-oue mensie

Die ryk van die duisternis laat ook niks en niemand wat nie daar lid is, met rus nie. Natuurlik nie – die duiwel weet mos sy tyd word elke dag korter en dan lê hef aan vir hom en sy trawante voor.

(Ja, ek weet ek behoort seker te skryf die Ryk van die Duisternis, maar dis nou een van daai klein privaat oorloggies wat ek baklei: ek gee nie ‘n haarbreedte se positief aan hierdie vyandskaboedel nie en erkenning deur hoofletters? Not ‘n tiekie.)

So word daar nou deur die voorstanders en beoefenaars van aborsie, ‘n nuwe grynslagaanval op christene geloods.

“Het jy geweet,” vra hulle met lekkerkry op een van hul webwerwe, “dat jy die anti-aborsie mense se voete onder hulle kan uitslaan met één simpel ou vragie?” (Dan volg daar ‘n video waar hulle die volgende gesprek met anti-aborsie protesteerders voer.)

“Vra hulle maar net:

Indien aborsie onwettig sou wees, wat moet gedoen word met die vrou wat die aborsie gehad het?

Hou hulle goed dop en kyk hoe hulle verstom van verwaring. Hulle glo mos aborsie is moord, en moord verdien om swaar gestraf te word, dan nie? Gevolglik moet die vrou wat ‘n aborsie gehad het, lewenslank tronk toe gaan, of die doodstraf kry. Logies.

Maar dit wil hulle nie aanvaar nie. Nee, sê hulle, los die vrou, sy sal wel eendag haar straf kry. Of, ons bid vir haar; of: sy sal die res van haar lewe met haarself moet saamleef, en dit is swaar genoeg straf.

Hulle weet hierdie standpunt is absurd en onregverdig – wat beteken hulle wéét aborsie is nie regtig moord nie.

Dis verstommend dat hulle nog nooit vantevore hieraan gedink het nie. Hulle is tog al jare lank besig om aborsie te beveg!

Watter nut het dit om soveel tyd en energie daaraan te bestee om aborsie onwettig te maak as hulle nie die persoon wat die wet oortree, wil straf nie?”

Tot sover die webgesprek.

Nou wonder ek: wat sal ek antwoord op hierdie argument?

Brrr.....

GrootHond is ‘n robot wat gebou is (2005 al) om as “pakdonkie” te dien vir soldate op terrein wat onbegaanbaar is vir voertuie.

Pleks van wiele, gebruik GrootHond vier bene.

Hy word beskou “as die wêreld se mees ambisieuse potige robot” en is ontwerp om 120 lb ( ongeveer 54.43 kg) teen drie myl per uur te kan dra, oor ‘n terrein met ‘n helling van 45º.

Nou as DIT nie absoluut grillerig is nie, vertel my asseblief wat is…..

Tuesday, February 17, 2009

Gasvryheid



Dit is gasvryheid se diepste wese:
dat ons vir mekaar ‘n rusplek langs die pad word
onderweg na ons ewige tuiste.

Monday, February 16, 2009

'n Anderster manier van vakansiehou

Wat ons in Ouland ‘n karavaan genoem het, staan hier bekend as ‘n “travel trailer”, maar wat die Amerikaners ‘n “motorhome” noem, kan ek tog nie vertaal met ‘n “motorhuis” nie, en sal maar met “buskaravaan” volstaan.

Saterdag het ek en Vennoot ‘n draai by ‘n R.V. (recreational vehicle) -skou gemaak, en weereens net verstom kopgeskud oor “bigger and better,” as dit kom by ‘n vakansievoertuig.

Hierdie een kan jy kry vir R658 000

Hierdie meneer kos sowat R1 400 000


‘n “Five Wheeler" vir “net” R245 000 (mits jy 'n lekker sterk "trekperd" vir hom het)


En…… R5 950 000 !! (Weet nie of hy jou reguit hemel toe kan vat, of wat hom so besonders maak nie)Hy het 'n stoepie aan die een kant, en soos die tweede een van bo-af, kan verskillende dele ook sywaarts uitstoot vir meer ruimte.

En as mens moeg is, is die sitkamer net die plek


Die T.V. moet nog kom, maar tot die gaskaggel vir koue wintersaande is gereed!

Kombuis/sit/eetkamer



Menige vrou begeer so ‘n kombuis in haar HUIS!



Hoofslaapkamer




Die afwerking laat ook niks te wense oor nie











Dis waarlik luukse in die oortreffende trap hierdie, maar ek kan nie vir myself uitmaak of dit is hoedat ek (indien ons dit sou kon bekostig het!) wil "kampeer" nie. Daai "naby aan die bos" gevoel en die geniet van die natuur, gaan mos nou so heeltemal verlore?

O wel, soos die Hollanders sal wil sê: “Oor smaak val nie te twiste.”

Thursday, February 12, 2009

En toe laat waai Ouma

Eendag was daar ‘n ouma wat teater toe wou gaan, maar ongelukkig raak sy bietjie deurmekaar met al die afdraaipaaie, en verdwaal. Gelukkig tog vir Ouma (of so het sy gedink), sien sy drie jonge dogters langs die pad stap en toe sy stop en raad vra, bied hulle sommer aan om saam met Ouma te ry en vir haar te gaan wys waar die toneelplek is. En jou waarlikwaar, ewe goedhartiglik bring die drietjies Ouma Dinsdagmiddag veilig tot in die parkeerplek van die Duchess Theatre, in Long Eaton, Derbyshire, Engeland.

Maar toe verstaan Ouma nie mooi waarom die ou meisietjie op die passasiersitplek langs Ouma skielik die motordeur oopruk en padaf laat spaander nie –- totdat Ouma Ouma se handsak in die kind se hande sien…en dis net daar wat Ouma ook uitspring en vir dogtertjie agternasit; die ou dingetjie het nou seker ook nie gedink dat ‘n ouma van 72 nog kan hardloop, en vir jou, wat net 16 is, kan inhaal boonop nie!

“Sy het ‘n voorsprong gehad, maar skielik so saam met die wind in my hare, voel ek sommer weer 18 jaar oud en ek woerts 70 jaarts in 15 sekondes af. Dis toe ek so binne twee tree van haar af is, dat juffertjie omkyk en ek sien net hoedat ‘n trek van stomme verbasing oor haar gesig gly en haar oë rek, en sy besluit om die handsak liewers in my rigting te gooi. Nou ja, toe ek my handsak terug het, toe los ek haar maar, wat.

“Die kind kon mos onmoontlik geweet het dat ek op 17 gekwalifiseer het vir die All England Schools Kampioenskappe in Ashington, Northumberland, in die 100 jaarts.”

Terug by haar motor, het die ander twee vir Jean Hirst baie mooi om verskoning gevra vir hul vriendin se gedrag. “Ek het hulle gemaan om hul vriende in die toekoms versigtiger te kies.”

“Ek moet sê, die dag ná die petalje het ek les opgesê –- daar was nie ‘n spier in my lyf wat nie gepyn het nie. Van my dogter het ek ook nie veel simpatie gekry nie. Sy het na my gekyk met ‘Ma, dis omdat jy nie behoorlik opgewarm het nie.’ Maar ek dink nóg dit was al die lyfseer werd.”

Thus wast thou

“Stil, broers
daar gaan ‘ n man verby”…. moeilik vir my om te beskryf hoe hierdie woorde van Jan F.E. Celliers oor Genl. Christiaan de Wet my, elke keer wanneer ek dit lees, opnuut raak….méér word as net kopwoorde…

Daar is nie baie iemande op wie ek hierdie woorde van toepassing sal maak nie; dis woorde wat diep kyk; woorde wat nuwe betekenis gee aan eerbied en bewondering .…en verlies.

Maar daar is een wat ek wel sal vereer met hierdie woordkrans, een wie se geboortedag vandag herdenk word: Abraham Lincoln, sestiende president van die Verenigde State.

Gebore in nederige en armoedige omstandighede en met baie min formele opleiding, was Lincoln desnieteenstaande bekend vir sy grasie en elegansie as dit gekom het by skryf en praat -- om van sy gevatheid en humor nie eens te praat nie.

Self opgelei in die regte, word hy een van die voorste regsgeleerdes van sy tyd; stel regsgebruike in en skep presedente wat tot vandag toe gehandhaaf word!

Hy was ‘n rustige en oorwoë mens, wat waardig en statig gebly het onder die moeilikste en veeleisendste omstandighede, hetsy persoonlik of nasionaal.

Hy was die een wat aan die stuur gestaan het tydens een van die donkerste tydperke in die Amerikaanse geskiedenis, maar nooit het hy getwyfel aan die belangrikheid en die onaantasbaarheid van die Unie (samehorendheid van al die state) nie.

Die Burgeroorlog het hom slapelose nagte en baie trane gekos, maar, hoewel gehaat en verag deur die Suide, het hy onwrikbaar geglo in die “government of the people, by the people, for the people," en teen die einde van die oorlog verklaar: "with malice toward none; with charity for all; with firmness in the right as God gives us to see the right, let us strive on to finish the work we are in; to bind up the nation's wounds."

Op 12 Februarie 1809 is ‘n klein babaseuntjie in ‘n eenvoudige houthut in die bosse van Kentucky gebore, en die minste van almal seker sou sy ongeletterde ouers kon voorsien dat hy twee volle honderd jare later steeds met heldeverering en diepe agting beskou sou word as een van die grootste Amerikaanse presidente ooit.

Sy skokkende heengaan aan die hand van ‘n moordenaar het hom inge-ets op die geheue van sy volk en met hartseer skryf die digter John J. Loud:

Thou kindly, loving, whole-souled man,
just, as well as tender;
So simply great, so grandly good,
So patient and laborious,
Loved brother of thy brother-man,
Thus wast thou, Lincoln, glorious!

Tuesday, February 10, 2009

Nogeens in memoriam

'n Dokter by die hospitaal waaraan een van ons seuns ook verbonde is:

A prominent physician at the Austin Hospital, Melbourne, Australia, professor Rob Pierce, is among those missing and feared dead, while it is believed his wife is in intensive care with injuries sustained in the St Andrews fire.

Professor Pierce is head of Victoria's Institute for Breathing and Sleep, and has developed an international reputation in his field.

His research included the impact of sleep disorders on road safety and nocturnal oxygen therapy.

Hospital staff were reportedly "shell-shocked" yesterday at the news. Chief executive Brendan Murphy said the hospital had "grave concerns" for Professor Pierce's wellbeing. "He is a well loved and highly respected staff member who is an international leader in respiratory and sleep medicine and research," Dr Murphy said. "A number of Austin Health staff live in the affected areas and have lost loved ones and homes and we are providing them with all of the support we can at this time."

*** Sopas verneem dit is bevestig dat hy dood is.

Monday, February 9, 2009

Goodbye for now, Declan

Declan du Toit was born on June 14 June 2008 at 10 am - a gorgeous blonde bundle. Mom and Dad, Gillian and Daryl, were thrilled to bits and took him home to begin their new exciting (daunting?) adventure as parents.

Life can throw curve balls when you least expect it....

At 10 days old, Declan, was diagnosed with a a malignant tumor which appeared to be growing from the back of his eye. And so his - and Gill and Daryl's - tough journey towards full health began.

God, in His wisdom, took Declan home last night.

From his website:Monday, February 09, 2009

Hello all my special friends

Last night at 11.10 pm I left to go and be with my Daddy in the sky. A beautiful angel called Michael, with massive wings and a brilliant white glow all about him came to fetch me and held my hand as we flew through the sky. He has been with me for some time now but last night he said it’s time to go home.

Mommy and Daddy held me in their arms as I left and the rest of the family were standing in the room with me. What a welcome I got when I arrived. Open arms and hugs and tears of joy cos I have no more pain. The monster stayed behind on earth and I can see beautifully from 2 open eyes. I can even run around and there are just so many toys here. Today I plan to go for my first swim in the sea with fishies and star fishies and the angels told me I will even be able to breathe under water.

Thank you so much for all your love and support and for walking my road with me. My family and I could never have done it alone and we just don’t have words to explain how much your love, encouragement, faith and strength have meant to us.

Mommy promised me a party when I got better so I am holding her to it. Mommy will put the details on my site and it will probably be towards the end of this week and you are all welcome to come.

Mommy and Daddy promised me to continue the work I started for other kids fighting monsters so please don’t stop coming to my site. There is still lots to do. Instead of flowers and such things, I am asking you to sign up for our Bone Marrow drive and Mommy will put more details on the site later.

This is Declan signing out. I love you all lots and I know it’s hard for the people who stay behind to understand, but be strong, cos I am in a place now where I understand everything, I understand how loved I was on earth and I understand and am experiencing true peace for the first time in my little life.

Love,
Declan
7 months, 3 weeks and 4 days
Now, every day will be a perfect day of love together with Jesus
~~~~

Mommy got this poem from Uncle Jason and I asked her to put it on my site cos its just too beautiful and sums everything up so nicely.

Do not despair my short lived stay,
Every Angel must away.
Cry two tears, but then no others,
Love and Hope have been my brothers.

And now we three must leave this world,
Not alone, but bound as one.
Destined for a glorious home,
Unbound from this monster I have known.

There for you, we all shall wait,
Open heart at heavens gate.
In perfect health, and happy ways,
To reunite for all our days.

http://www.statmedical.co.za/all-hands-on-dec/about_dec.html

Friday, February 6, 2009

Koala-kaskenades

Tans vlieg onderstaande e-pos (en met reg!) op die internet rond:

"Lees, voordat jy na die prentjies kyk:

Dit was onlangs ongelooflik warm in Australië….40ºC+ elke dag, en boonop baie droog ook.

In die dorpie Maude in suid-Australië het ‘n klein koalatjie verligting van die hitte op ‘n huis se stoep gaan soek. Die huisvrou het ‘n skottel water naby hom neergesit en kyk wat gebeur toe!"





Ag jinne, dit moes
so opwindend gewees het om te beleef!

Verkeerdelik het die Engelse koloniste natuurlik destyds die Dhurak (in Aboriginees), ‘n koalabeer genoem, by gedagte aan ‘n teddiebeer. Hierdie diertjie wat jou laat “ooh” en “aah”, is nie ‘n beertjie nie, maar ‘n buideldier met lang, skerp kloue om beter te kan boomklim, my kind.

En selfs met behulp van ‘n elektronmikroskoop is dit deksels moeilik om tussen sy vingerafdrukke en dié van ‘n mens te onderskei! (Hoe sal die evolusioniste DIT nou gaan verklaar?!)

Die brein van die eertydse koalas het die hele skedelholte gevul, maar het drasties gekrimp by die hedendaagses -- waarskynlik te danke aan ‘n lae-energie dieet (sal moet oppas hiervoor. Die ouderdom doen al klaar nie wonderlike dinge vir my begripsvermoë nie.)

Nou kyk, baie pasgebore mense-babatjies is nie vir my die mooiste van mooi wat ek al gesien het nie, maar ‘n klein joey is by geboorte haarloos, blind en sonder ore, maar weet presies om met sy kwartduim-lange (amper 'n driekwart sentimeter!) lyfie in sy mamma se buidelsak in te kruip vir lekker warm melk.

Hierdie buidel is ook ‘n wonderlike ding, want Ma koala kan die sak willekeurig bo toemaak met ‘n spier wat werk soos ‘n skuifkoord (drawstring)!

En terwyl koalakind vir ses maande knus lê en properse dier word, ontwikkel hy ore, oë en ‘n pelsjassie en voel dan mooi genoeg om sy debuut in die buitewêreld te gaan maak, selfs al word hy eers op ‘n jaar oud gespeen.

Al van lui gehoor? Koala se kind slaap bewegingloos vir die grootste deel van elke dag, so 16 tot 18 uur, omrede van ‘n uiters lae metabolisme. En dan, vir 60% van sy wakkerweestyd verorber hy 500g (18 oz) bloekomblare.

Ok maar sondig van geaardheid, want al lyk hy so oulik en vreedsaam -- hy wil nie graag gepla word nie en het al meer as een mens lelik seergemaak met daai kloue en skerp tande.

O ja, en..... wanneer val ‘n koala uit ‘n boom uit?
As hy dood is.

Thursday, February 5, 2009

Ou gesegdes en nuwe gedoentes

My ou moederma het vele gesegdes gehad; en verder kon mens jou altyd verlekker as sy die keer aan’t storie vertelle geraak het. Een van die uitdrukkings wat sy so geselliglik kon gebruik as sy verbaas was oor iets, was om te sê… "Nou toooeeeee nou."

Met die "nou" op 'n kort middel C, die "toooeeeee" op E en dan val die tweede "nou" weer af tot op 'n stabiele middel C.

Wel, vandag kan ek ook sê: "Nou toooeeeee nou...."

Gisteraand kom Vennoot naamlik tuis met die aankondiging dat hy nou finaal -- ná lank se dink en weer dink --- besluit het om einde vandeesmaand af te tree.

Ha -- ek het nog nooit probleme gehad om my in enige van my lewensrolle tuis te voel nie, maar.... AFGETREDENE??? Waarvoor staan dit in elk geval?

"AF" (nie op nie, wat gewoonlik darem op positiewe vordering dui), en TREDENE -- "tree" om te beweeg = beweeg af....nader na grondvlak toe....en dieper??!!

Toemaar, toemaar, die tong-in-die-kies-kabouter het my aangepor om te skerts (ek het vroeër van die ditse ou 'duiweltjie' en datse ou 'duiweltjie' gepraat, maar aikona, nie meer nie. Daar is geen manier waarop mens sagkens van die duiwel en sy trawante kan praat nie. "Kabouter" is ook nie suiwer nie, glo vir my, maar kom ons laat die donkere karakters nou maar vereers daar.)

En ook hoor, ek is darem nie totaal gekant teen "afgetredene" wees nie, hoewel ek glo dit sal sekere (en hoe!~) aanpassings verg.

Het jarre lank al vir Vennoot gewaarsku ek sal nie met 'n pottekyker --- dis nou deksels kom oplig in die kombuis en kom vra "Wat kook jy vanaand"-se-styl, kan klaarkom nie.

Was ook nog altyd baie onafhanklik oor die rigtings wat ek ry of loop of nie ry en loop nie, en sommer net sit as ek nie wil loop nie, en nou kan ek dit nie meer ongemerk of sonder verduideliking doen nie....aanpassing se miesies, ek bedoel moses....

HA!! Het nou net die oplossing gevind.

"Nou toooeeeee nou" -- en nou sal julle my moet verskoon....ek moet vir Geliefde loop inskryf vir 'n kookkursus....

Tatta, hoor....

Wednesday, February 4, 2009

Mag Redding volg op redding

As jy ‘n vierjarige uit ‘n gelukkige gesin is waar mamma saans met beddtyd vir jou feëverhale lees, en jy dan saam met pappa ‘n wonderbare noodlanding van ‘n vliegtuig op ‘n rivier beleef, glo jy die vliegtuig het in ‘n boot verander!

As jy grootgeword het met ‘n lewe van misbruik, drank, losbandigheid en wetsoortreding -- en kies om jouself laterjare daarin te verstrengel -- en die strop trek al nouer om jou nek, dan klim jy in jou kar en gaan jaag oor ‘n krans.

Of altans, jy probeer.

Dis wat Daniel Lyons (34) voorlaasweek hier in Colorado probeer doen het. Maar toe laat die Here dit nie werk nie.

Lyons se Volkswagen het 120 vt. (37 m) ver oor die kransrand gevlieg voordat dit aan ‘n rotspunt vasgehaak en wiegend bly hang het. Sou hy ‘n meter hoër verbygetrek het, dan het hy 300 vt (91 m) geval en verbryseld onder in die kloof te lande gekom.


Glo ons dat ons ons dade en die gevolge daarvan altyd kan deurgrond en begryp? Nou waarom het Daniel Lyons nie hier die deur van sy Volkswagen oopgemaak en uitgespring nie? Want hy het tog immers gekom om ‘n einde aan sy lewe te maak? Wat het hom gekeer?

Maar nee, hy het in doodsangs 911 op sy selfoon gebel. Twee ure later is die voertuig, met hom nog steeds binne-in, van die rots afgelig met behulp van toue en die katrolstelsel van ‘n 260-ton hyskraan.
Mag Daniel Lyons tog besef waarom hy ‘n wonderbare tweede kans gegee is.

Monday, February 2, 2009

Aan die hand van 'n pappa

O, dat ek tog in lewens- en sterwenskrisisse met oorgawe en vertroue mag vashou aan die hand van my liefdevolle Vader….

Vierjarige dogtertjie aan haar pappa, toe sy ná die noodlanding van die vliegtuig op die Hudsonrivier, saam met hom op die vlerk moet uitstap:

“Kyk, Pappa, die vliegtuig het in ‘n boot verander!”
~~~
Heidelbergse Kategismus-vraag:

"Wat is my grootste troos in lewe en in sterwe?"
"Dat ek in lewe en in sterwe, nie aan myself nie, maar aan my getroue Saligmaker, Jesus Christus toebehoort."