Thursday, February 5, 2009

Ou gesegdes en nuwe gedoentes

My ou moederma het vele gesegdes gehad; en verder kon mens jou altyd verlekker as sy die keer aan’t storie vertelle geraak het. Een van die uitdrukkings wat sy so geselliglik kon gebruik as sy verbaas was oor iets, was om te sê… "Nou toooeeeee nou."

Met die "nou" op 'n kort middel C, die "toooeeeee" op E en dan val die tweede "nou" weer af tot op 'n stabiele middel C.

Wel, vandag kan ek ook sê: "Nou toooeeeee nou...."

Gisteraand kom Vennoot naamlik tuis met die aankondiging dat hy nou finaal -- ná lank se dink en weer dink --- besluit het om einde vandeesmaand af te tree.

Ha -- ek het nog nooit probleme gehad om my in enige van my lewensrolle tuis te voel nie, maar.... AFGETREDENE??? Waarvoor staan dit in elk geval?

"AF" (nie op nie, wat gewoonlik darem op positiewe vordering dui), en TREDENE -- "tree" om te beweeg = beweeg af....nader na grondvlak toe....en dieper??!!

Toemaar, toemaar, die tong-in-die-kies-kabouter het my aangepor om te skerts (ek het vroeër van die ditse ou 'duiweltjie' en datse ou 'duiweltjie' gepraat, maar aikona, nie meer nie. Daar is geen manier waarop mens sagkens van die duiwel en sy trawante kan praat nie. "Kabouter" is ook nie suiwer nie, glo vir my, maar kom ons laat die donkere karakters nou maar vereers daar.)

En ook hoor, ek is darem nie totaal gekant teen "afgetredene" wees nie, hoewel ek glo dit sal sekere (en hoe!~) aanpassings verg.

Het jarre lank al vir Vennoot gewaarsku ek sal nie met 'n pottekyker --- dis nou deksels kom oplig in die kombuis en kom vra "Wat kook jy vanaand"-se-styl, kan klaarkom nie.

Was ook nog altyd baie onafhanklik oor die rigtings wat ek ry of loop of nie ry en loop nie, en sommer net sit as ek nie wil loop nie, en nou kan ek dit nie meer ongemerk of sonder verduideliking doen nie....aanpassing se miesies, ek bedoel moses....

HA!! Het nou net die oplossing gevind.

"Nou toooeeeee nou" -- en nou sal julle my moet verskoon....ek moet vir Geliefde loop inskryf vir 'n kookkursus....

Tatta, hoor....

8 comments:

Nimsi se Blog said...

Hello mariki,
het n bietjie gesukkel met my internet die afgelope week, die dat ek nou eers kom opvang hier by jou.
Jou fotos van die ysstorm is asemrowend mooi! ons dien n lewende God is al wat ek op die volgende inskrywings kan se.
En vir die aftrede: sterkte!
Heerlike naweek vir jou.
Nimsi

Oom Petrus said...

Hallo Mariki,
Ek ry ook amper in dieselfde bootjie, maar is te bang ek dood as ek aftree. Sal maar werk tot die dood my by die werk kom haal. Nogal 'n paradigma skuif om te maak as mens regtig by daardie besluit kom.
Sterkte vir julle as gesin, sal 'n nuwe aanpassing wees

mariki said...

Dankie, Nimsi -- bly jou neukenaar is weer aan die gang.

Aanpassing gewis. En daai dood-storie...

Sandra said...

Ek het dieselfde vrae oor dit! Wat nou as die man kan kook?

mariki said...

Vra, Sandra,vra!

Muriel said...

Hi Mariki

Jammer ek loer nou eers hier in, dit het so bietjie dol gegaan. Ek het heerlik gelees aan al jou inskrywings!

Ek sal ook maar werk tot die dood my kom haal ;)

Lekker week vir jou!

mariki said...

Muriel -- is jy dalk besig om jou dood te werk...?!

Sarah J said...

Hallo Mariki, ek het jou skrywe nou baie gesit en geniet. Party dinge is darem maar onvertaalbaar en onverbeterlik net Afrikaans - "Nou toeee nou" is sekerlik een van hulle !
Sarah J