Op 3 Augustus 1945 is die 30-jarige Paul Tibbets aangesê om “Spesiale Sending no. 13” te onderneem.
“Toe ek die opdrag kry, het ek geweet daar sou ‘n emosionele prys wees om te betaal. Ek en my bemanning was nie onaangeraak deur die geweldige impak van die saak nie, maar moes noodgedwonge ons gevoelens onderdruk. Ons was in ‘n oorlog gewikkel, en dit was ons plig om daardie oorlog te wen.”
Toe die Enola Gay kort voor dagbreek op 6 Augustus die lug in klim, het Tibbets sy pyp, ‘n paar sigare en ‘n houer met ‘n dosyn sianiedkapsules by hom gehad, vir geval die bemanning oor vyandelike gebied sou moes uitspring.
Sowat ses ure later het Tibbets die teiken gesien –- die Aioibrug in die middel van Hirosjima, ‘n Japanese weermaghoofkwartier.
Om presies 8.15 plaaslike tyd is die bom –- “Little Boy” -- afgegooi en 43 sekondes later het dit ontplof in ‘n inferno wat tienduisendes dood en sterwend gelaat, en die stad in ‘n smeulende ruïne verander het.
Tibbets het ‘n voorafbeplande duikdraai uitgevoer om die effek van die ontploffing vry te spring.
“Die reuse, pers sampioen het reeds tot op ‘n hoogte van 45 000 vt (13 716 meter) uitgekring, 3 myl bo ons eie hoogte, en het bly boontoe kook.”
Tot en met sy dood in 2007, het Brigadier-Generaal Tibbets –- wat ten spyte van groot heldeverering, in later jare die skyf geword het van vernietigende kritiek -– verklaar dat hy nooit skuldig gevoel het oor wat hy gedoen het nie. “Dit was ‘n opdrag; buitendien, ek het nie die oorlog begin nie, maar ek wou dit beeïndig. Nog ‘n miljoen of meer mense sou gesterf het as ons dit nie gedoen het nie.”
Tog lees mens in sy biografie hy “ervaar ‘n gevoel van diepe skaamte vir die hele mensheid, wat deur die geskiedenis heen aanvaar het dat bloedvergieting ‘n geoorloofde manier is om geskille te besleg.”
No comments:
Post a Comment