Thursday, February 12, 2009

Thus wast thou

“Stil, broers
daar gaan ‘ n man verby”…. moeilik vir my om te beskryf hoe hierdie woorde van Jan F.E. Celliers oor Genl. Christiaan de Wet my, elke keer wanneer ek dit lees, opnuut raak….méér word as net kopwoorde…

Daar is nie baie iemande op wie ek hierdie woorde van toepassing sal maak nie; dis woorde wat diep kyk; woorde wat nuwe betekenis gee aan eerbied en bewondering .…en verlies.

Maar daar is een wat ek wel sal vereer met hierdie woordkrans, een wie se geboortedag vandag herdenk word: Abraham Lincoln, sestiende president van die Verenigde State.

Gebore in nederige en armoedige omstandighede en met baie min formele opleiding, was Lincoln desnieteenstaande bekend vir sy grasie en elegansie as dit gekom het by skryf en praat -- om van sy gevatheid en humor nie eens te praat nie.

Self opgelei in die regte, word hy een van die voorste regsgeleerdes van sy tyd; stel regsgebruike in en skep presedente wat tot vandag toe gehandhaaf word!

Hy was ‘n rustige en oorwoë mens, wat waardig en statig gebly het onder die moeilikste en veeleisendste omstandighede, hetsy persoonlik of nasionaal.

Hy was die een wat aan die stuur gestaan het tydens een van die donkerste tydperke in die Amerikaanse geskiedenis, maar nooit het hy getwyfel aan die belangrikheid en die onaantasbaarheid van die Unie (samehorendheid van al die state) nie.

Die Burgeroorlog het hom slapelose nagte en baie trane gekos, maar, hoewel gehaat en verag deur die Suide, het hy onwrikbaar geglo in die “government of the people, by the people, for the people," en teen die einde van die oorlog verklaar: "with malice toward none; with charity for all; with firmness in the right as God gives us to see the right, let us strive on to finish the work we are in; to bind up the nation's wounds."

Op 12 Februarie 1809 is ‘n klein babaseuntjie in ‘n eenvoudige houthut in die bosse van Kentucky gebore, en die minste van almal seker sou sy ongeletterde ouers kon voorsien dat hy twee volle honderd jare later steeds met heldeverering en diepe agting beskou sou word as een van die grootste Amerikaanse presidente ooit.

Sy skokkende heengaan aan die hand van ‘n moordenaar het hom inge-ets op die geheue van sy volk en met hartseer skryf die digter John J. Loud:

Thou kindly, loving, whole-souled man,
just, as well as tender;
So simply great, so grandly good,
So patient and laborious,
Loved brother of thy brother-man,
Thus wast thou, Lincoln, glorious!

6 comments:

Desia said...

Dankie vir die stukkie (einlik 'n groot stuk) interessante geskiedenis.
Ek weet nie van een huidige leier wat Lincoln se skoene kan volstaan nie.

Muriel said...

Baie mooi inskrywing oor 'n groot man!

Anonymous said...

Mooi inskrywing, Mariki. Dis darem een ding om in die skoolboeke van Amerika se geskiedenis te leer, en 'n ander ding om die mens agter die mens te leer ken - danksy jou.

mariki said...

Desia, jy kan nie MEER reg wees nie.

Dankie, Muriel.

Ja, Boendoe, ons geskiedenisonderwysers het darem lelik teenoor ons gesondig!

Jan and Miekie said...

Hy was 'n besondere mens! Soos Desia wonder ek of daar 'n huidige leier vandag is wat so in herhinnering sal bly? Nelson Mandela heel moontlik. Baie leiers vandag het darem onbenydenswaardige jobbies - ek wil sowaar nie Barack Obama of Tshangvirai wees nie! Hoe ontkoek 'n mens die gemors wat hulle geerf het?

mariki said...

Jinne Miekie, kan nie met jou saamstem oor Nelson in dieselfde lig as Lincoln nie -- Lincoln het darem nooit bomme gemaak en mense die lug ingeblaas nie. Dis juis wat hom vir my so uitstaande maak -- sy eerlikheid, opregtheid en integriteit, met 'n diepe geloof in die Here.