Thursday, February 12, 2009

En toe laat waai Ouma

Eendag was daar ‘n ouma wat teater toe wou gaan, maar ongelukkig raak sy bietjie deurmekaar met al die afdraaipaaie, en verdwaal. Gelukkig tog vir Ouma (of so het sy gedink), sien sy drie jonge dogters langs die pad stap en toe sy stop en raad vra, bied hulle sommer aan om saam met Ouma te ry en vir haar te gaan wys waar die toneelplek is. En jou waarlikwaar, ewe goedhartiglik bring die drietjies Ouma Dinsdagmiddag veilig tot in die parkeerplek van die Duchess Theatre, in Long Eaton, Derbyshire, Engeland.

Maar toe verstaan Ouma nie mooi waarom die ou meisietjie op die passasiersitplek langs Ouma skielik die motordeur oopruk en padaf laat spaander nie –- totdat Ouma Ouma se handsak in die kind se hande sien…en dis net daar wat Ouma ook uitspring en vir dogtertjie agternasit; die ou dingetjie het nou seker ook nie gedink dat ‘n ouma van 72 nog kan hardloop, en vir jou, wat net 16 is, kan inhaal boonop nie!

“Sy het ‘n voorsprong gehad, maar skielik so saam met die wind in my hare, voel ek sommer weer 18 jaar oud en ek woerts 70 jaarts in 15 sekondes af. Dis toe ek so binne twee tree van haar af is, dat juffertjie omkyk en ek sien net hoedat ‘n trek van stomme verbasing oor haar gesig gly en haar oë rek, en sy besluit om die handsak liewers in my rigting te gooi. Nou ja, toe ek my handsak terug het, toe los ek haar maar, wat.

“Die kind kon mos onmoontlik geweet het dat ek op 17 gekwalifiseer het vir die All England Schools Kampioenskappe in Ashington, Northumberland, in die 100 jaarts.”

Terug by haar motor, het die ander twee vir Jean Hirst baie mooi om verskoning gevra vir hul vriendin se gedrag. “Ek het hulle gemaan om hul vriende in die toekoms versigtiger te kies.”

“Ek moet sê, die dag ná die petalje het ek les opgesê –- daar was nie ‘n spier in my lyf wat nie gepyn het nie. Van my dogter het ek ook nie veel simpatie gekry nie. Sy het na my gekyk met ‘Ma, dis omdat jy nie behoorlik opgewarm het nie.’ Maar ek dink nóg dit was al die lyfseer werd.”

6 comments:

Jan and Miekie said...

Dit wil gedoen wees! Daardie kind sal seker nie gou weer 'n onbekende Ouma se sak gryp nie!

mariki said...

Ek het lekker gelag oor hierdie ene.

Maar Miekie, wat laat my dink dat iemand ook nie op daardie ouderdom nog met jou sal moet skoorsoek nie...?!

Muriel said...

whahaha yes vat-so!!!

Dinge is nie altyd soos dit op die oog af lyk nie!

Die prentjie/foto hier by het my eers lekker laat lag! Ek dink ons moet almal so paar spyker skoene aanhou! Slaan die skelms se agterwêreld vol gate! *grin*

Lekker week!

mariki said...

Ag, waarom kan alle kwaaddoeners tog nie so gefnuik word nie, Muriel!

Skitter said...

Dis skreeusnaaks! Amper gedink dis 1 April...Ek beny jou die gawe, ek kan nie eens saam't manlief 'n 2,4km draf nie.

mariki said...

Skitter, hardloop kan ek nie; maar lag? Lekkkrrrr....