Wednesday, February 4, 2009

Mag Redding volg op redding

As jy ‘n vierjarige uit ‘n gelukkige gesin is waar mamma saans met beddtyd vir jou feëverhale lees, en jy dan saam met pappa ‘n wonderbare noodlanding van ‘n vliegtuig op ‘n rivier beleef, glo jy die vliegtuig het in ‘n boot verander!

As jy grootgeword het met ‘n lewe van misbruik, drank, losbandigheid en wetsoortreding -- en kies om jouself laterjare daarin te verstrengel -- en die strop trek al nouer om jou nek, dan klim jy in jou kar en gaan jaag oor ‘n krans.

Of altans, jy probeer.

Dis wat Daniel Lyons (34) voorlaasweek hier in Colorado probeer doen het. Maar toe laat die Here dit nie werk nie.

Lyons se Volkswagen het 120 vt. (37 m) ver oor die kransrand gevlieg voordat dit aan ‘n rotspunt vasgehaak en wiegend bly hang het. Sou hy ‘n meter hoër verbygetrek het, dan het hy 300 vt (91 m) geval en verbryseld onder in die kloof te lande gekom.


Glo ons dat ons ons dade en die gevolge daarvan altyd kan deurgrond en begryp? Nou waarom het Daniel Lyons nie hier die deur van sy Volkswagen oopgemaak en uitgespring nie? Want hy het tog immers gekom om ‘n einde aan sy lewe te maak? Wat het hom gekeer?

Maar nee, hy het in doodsangs 911 op sy selfoon gebel. Twee ure later is die voertuig, met hom nog steeds binne-in, van die rots afgelig met behulp van toue en die katrolstelsel van ‘n 260-ton hyskraan.
Mag Daniel Lyons tog besef waarom hy ‘n wonderbare tweede kans gegee is.

5 comments:

Oom Petrus said...

Hallo Mariki,
Dit was nog nie sy tyd nie..., elke haar op sy hoof is getel...
Ons vertrou dat Vader vir hom hierdie kans gegee het omversoening te gaan soek
Groete

Jan and Miekie said...

In hierdie amper doodval het hy dalk iets gesien... Ons bid saam met jou dat hy tot redding kom. 'n Mens kry nie so 'n tweede kans vir niks nie! Daardie voertuig wat so tussen hemel en aarde hang - dis tog nie sommer vir niks nie!

mariki said...

Stem so absoluut met julle saam.

Charmaine said...

Hallo Mariki, ek het nou so bietjie op jou blog gekuier en jy skryf uitstekend. Ek hoop ook die jong man se lewe sal nou in 'n getuenis verander en nuwe beteknis kry. Ek het jou vertel van die aftree baie geniet.. :-) Ons skram maar lekker weg van erken dis ons tyd vir klaarmaak met die beroepswereld. Net vanaand het ek gedink ek sal nogal nie omgee om af te tree nie

mariki said...

Hallo Charmaine -- baie welkom! Ek geniet dit net so om te gesels van hierdie kant af, hoor.

En ja, die lewe en sy aanpassings. Maar om nog te KAN dink aan aftree in hierdie ekonomies onsekere tyd, is ook 'n voorreg voorwaar.