Friday, February 6, 2009

Koala-kaskenades

Tans vlieg onderstaande e-pos (en met reg!) op die internet rond:

"Lees, voordat jy na die prentjies kyk:

Dit was onlangs ongelooflik warm in Australië….40ºC+ elke dag, en boonop baie droog ook.

In die dorpie Maude in suid-Australië het ‘n klein koalatjie verligting van die hitte op ‘n huis se stoep gaan soek. Die huisvrou het ‘n skottel water naby hom neergesit en kyk wat gebeur toe!"





Ag jinne, dit moes
so opwindend gewees het om te beleef!

Verkeerdelik het die Engelse koloniste natuurlik destyds die Dhurak (in Aboriginees), ‘n koalabeer genoem, by gedagte aan ‘n teddiebeer. Hierdie diertjie wat jou laat “ooh” en “aah”, is nie ‘n beertjie nie, maar ‘n buideldier met lang, skerp kloue om beter te kan boomklim, my kind.

En selfs met behulp van ‘n elektronmikroskoop is dit deksels moeilik om tussen sy vingerafdrukke en dié van ‘n mens te onderskei! (Hoe sal die evolusioniste DIT nou gaan verklaar?!)

Die brein van die eertydse koalas het die hele skedelholte gevul, maar het drasties gekrimp by die hedendaagses -- waarskynlik te danke aan ‘n lae-energie dieet (sal moet oppas hiervoor. Die ouderdom doen al klaar nie wonderlike dinge vir my begripsvermoë nie.)

Nou kyk, baie pasgebore mense-babatjies is nie vir my die mooiste van mooi wat ek al gesien het nie, maar ‘n klein joey is by geboorte haarloos, blind en sonder ore, maar weet presies om met sy kwartduim-lange (amper 'n driekwart sentimeter!) lyfie in sy mamma se buidelsak in te kruip vir lekker warm melk.

Hierdie buidel is ook ‘n wonderlike ding, want Ma koala kan die sak willekeurig bo toemaak met ‘n spier wat werk soos ‘n skuifkoord (drawstring)!

En terwyl koalakind vir ses maande knus lê en properse dier word, ontwikkel hy ore, oë en ‘n pelsjassie en voel dan mooi genoeg om sy debuut in die buitewêreld te gaan maak, selfs al word hy eers op ‘n jaar oud gespeen.

Al van lui gehoor? Koala se kind slaap bewegingloos vir die grootste deel van elke dag, so 16 tot 18 uur, omrede van ‘n uiters lae metabolisme. En dan, vir 60% van sy wakkerweestyd verorber hy 500g (18 oz) bloekomblare.

Ok maar sondig van geaardheid, want al lyk hy so oulik en vreedsaam -- hy wil nie graag gepla word nie en het al meer as een mens lelik seergemaak met daai kloue en skerp tande.

O ja, en..... wanneer val ‘n koala uit ‘n boom uit?
As hy dood is.

3 comments:

Sandra said...

Ons het ook die oulike epos ontvang en my dogter se reaksie "ek wil ook een he". Dis baie oulik

Oom Petrus said...

Hallo Mariki,
Dankie nou weet ek baie meer van hierdie pragtige klein diertjies af

mariki said...

Nes Nelmarie wens ek ok mens kon die goeters makmaak, Sandra.

Interessante diertjies, né OomP.