Tuesday, January 6, 2009

Dink jy darem nog aan my?

Nou praat ek nie van die liedjietitel van die destydse Groep Twee nie; nee, ek vra of ek en jy ons familie Daud Hassan Ali, Hemanta Das en Douglas Samuel, Sarah Los en Ziad Kamal en Christianah Sesin, onthou?

Nou wie op dees aarde is hulle en as ons hulle nie van adamskant af ken nie, hoe kan ons familie wees?

Hierdie mense was ons broers en susters in die Here (dié Een Wie se verjaarsdag ons sopas met groot akkolade en kersbome en presente en miskien selfs ooreet, gevier het) en is doodgemaak vir hul geloof in Hom - nie 1 000 of 100 jaar gelede nie, maar in 2008. Soos Ngisti die vorige jaar. Wat was haar sodanige oortreding? Sy en nege ander vroue het as omgeegroep in Eritrea vergader. Nigsti is vir 18 maande aangehou voordat sy doodgemartel is vir haar geloof in Jesus Christus.

En wat het al die ander verkeerd gedoen? Hulle het Bybel gelees en gebid. Wat beteken ons Bybel vir ons? Wat beteken ons vryheid vir ons? Daar word op hierdie oomblik, terwyl jy hier lees, mense vervolg, gemartel en doodgemaak omdat hulle in dieselfde Jesus glo waarin ek en jy as wedergebore Christen glo.


(Die rooi dui totale vervolging aan -- ook deur die regering. Die donkergrys dié gebiede op die randjie daarvan).

Jaarliks word meer as 250,000 Christene omrede van hul geloof vermoor. (Geskatte syfer van die World Christian Database, Gordon-Conwell Theologiese Skool.)

En die ongeveer 45.5 miljoen Christene wat gedurende die laaste eeu vir Christus gesterf het, maak dit een van die donkerste martelaarstydperke sedert die ontstaan van die Christelike kerk.

Bygesê, die aantal Christene wat nie doodgemaak word nie, maar wel ernstig vervolg word, is veel hoër – miljoene elke jaar.



Hebreërs 13:3 daag ons uit om om te gee vir hulle wat in die tronk is asof onsself daar is; om hulle wat gemartel word se pyn te dra asof ons self gemartel word. A.W. Tozer skryf: “Christene vertel nie leuens nie, hulle sing dit net in hulle gesange.” Wat ‘n aanklag! Sing jy ook “Jesus, my alles vir Jesus?”

As die Woord ons uitdaag om te bid, doen ons dit of sing ons dit net en doen ons niks daaraan nie?



World Persecution List 2007 (Mees op datum ene wat ek kon opspoor).

1. North Korea
2. Saudi Arabia
3. Iran
4. Somalia
5. Maldives
6. Yemen
7. Bhutan
8. Vietnam
9. Laos
10. Afghanistan 1
11. Uzbekistan
12. China
13. Eritrea
14. Turkmenistan
15. Comoros
16. Chechnya
17. Pakistan
18. Egypt
19. Myanmar (Burma)
20. Sudan (North)

In liefde vir ons Heiland, dring ek by jou aan:
Moenie vergeet om te bid nie. Dit is al wat hierdie vervolgde Christene vra, “Bid vir ons.”

14 comments:

Anonymous said...

Ek sal onthou - en bid. Mariki, laat my weer onthou waaroor Kersfees eintlik gegaan het.

mariki said...

Dankie, Boendoes.

Nimsi se Blog said...

Here Jesus,
U is die Lig vir die wereld en uit U straal God se heerlikheid. U het spesiaal na die aarde gekom sodat u lig die sondedonkerte eens en vir altyd kan verdryf.
Dankie vir U belofte dat die duisternis nooit sterker as die lig sal wees nie.
Amen
Dankie mariki vir hierdie spesiale inskrywing.
Nimsi

mariki said...

Pragtige gebed, Nims!

Muriel said...

Baie interessante inskrywing, ek sal hieroor bid. Dankie Mariki!

Sandra said...

Die mense het dit nie maklik nie. Ek het juis gehoor van jongmense van SA wat orals uitruik aksies in Afrika het wat nie borge kan kry nie. Ons kan vir hulle almal bid.

Ek sien ook dat die UAE ook in rooi is, ons word darem nie "vervolg" nie en hulle laat ons toe om te kerk.

mariki said...

Dankie vir almal se gebede -- die Here verhoor!

Sandra, dis seker maar moeilik om in 'n land te woon waar jy net met jou "eie mense" oor Jesus mag praat, né, en dit terwyl jy weet die inheemses is oppad na die ewige verdoemenis. Eina tog.

mariki said...

Wipneus -- WAAR moet ons jou soek?? Jy is so stil op jou blok?

Jan and Miekie said...

Verlangse familie van ons is sendelinge en hulle is onlangs in Yemen aangehou - was oor die nuus en als. Hulle is darem nou weer vrygelaat, maar dit was 'n baie ontstellende tyd. En dan dink 'n mens aan die duisende, nee miljoene, wat nie vrygelaat word nie! Dankie vir die pos. Ek sal 'n punt daarvan maak om meer vir die mense in daardie lande te bid EN om my EIE VRYHEID om my geloof uit te leef meer waardeer!
Die opmerking dat ons leuens sing, tref diep!
PS: Die word verification vandag is "appolo" - God se humoristiese wyse om my te laat onthou dat Hy 'n Enige God is en nie afgode verdra nie?

mariki said...

So dankbaar vir daardie familie se vrylating! En ja, is die Vader se humorsin nie kosbaar nie!

Sandra said...

Weer ek. Dis nie so moeilik om net met mens se eie mense te praat nie jong want hulle het ook nodig om die boodskap te kry :-). My werk is ons eie kinders van my eie land wat hier bly en NOOIT in die kerk kom of vir my se "Who's this guy Jesus you talking about". Ons eige mense. Ek haal my hoed af vir al die sendelinge en ons bid vir hulle al die pad en probeer sover moontlik finansieel ondersteun, maar ek dink ook al ons ander is dissipels vir Vader en dit beteken heeltyd "sendingwerk" vir Hom doen. Ons moet vir mekaar bid.

mariki said...

Wonderlike werk wat jy doen -- ek skud net my kop in ontsteltenis oor waar ons "eige mense" heen verdwaal het, daar, en in Ouland. Die Here sal jou toewyding verseker seën!

Netso, ons kort mekaar se gebedskrag om vas te bly staan. Dankie, San.

Skitter said...

Ons het Sendingvriende wat vir bykans 15 jaar in Nr 11 op jou lys gebly het.Hul is 2 jaar gelede uitgegooi en kan nooit weer terug. Hulle vertrek binne 'n paar maande na 'n ander 'kanniverstaan'-land . Hul vriendskap en getuienis het al ons geloof so baie versterk. En daar is baie ander wat ook so geroepe is ne

mariki said...

Sjoe, ja Skitter, dit maak my altyd, altyd skaam en dan gaan praat ek maar weer met die Here wat alles en almal verstaan.