Wie, ek, Here?!Toe ek weer gewaar, is Linda besig om haarself moeisaam dwars te draai en uit haar sitplek orent te kom. Sy steek stadig haar linkerhand met die polsstut na my uit. Ek is reeds by haar en vra net dat Jesus my sal wys hoe om haar tog die beste van hulp te wees.
(En toe onthou ek met 'n skok --
daar is mos 'n badkamer aan die agterkant van die bus!! Dus géén uitkoms om te wag vir die volgende bushalte en om die dame oorkant die paadjie te mobiliseer nie!!)
Maar die volgende oomblik steek ek spontaan my arms na haar toe uit met die palms oop na bo, en vat haar onder haar twee elmboë vas, terwyl sy dieselfde met my doen. So beweeg ek treetjie vir treetjie in die onstabiele gangetjie tussen die sitplekke agteruit, terwyl sy my met kreupelstappies volg. Want tot nou toe het ek nie eens gesien dat die een voetjie effens na buite gedraai staan, en die ander een in ‘n ortopediese toerygstewel is nie. En ook nie dat haar arms donkerbruin is van pigmentasievlekke, deurspek met spookwittes nie.
Só vorder ons, stadig maar seker na die agterkant van die bus en terwyl ek daarop konsentreer om haar te help regop hou, vloei ‘n liefde en vreugde deur my vir hierdie vrou, soos waarvan ek lanklaas bewus was.
Later, nadat ek haar in die badkamer help regkom en toe weer op haar siplekkie sitgemaak het, en die busbestuurder by die volgende stopplek so goedgunstiglik geweier het dat enigiemand anders as hy vir haar ete betaal, is ons weer onderweg.
Ek het verwag sy sou nie kon wag om die kos gulsig te verslind nie. Maar nee, soo, ek wil amper sê elegant, het sy warm aartappelskyfie vir warm aartappelskyfie uit die pakkie gehaal, dit stadig in haar mond gesit, en met ‘n glimlag sit en kou. Net so met die hamburger. Duidelik het sy elke happie wat sy geneem het, deeglik geproe en haar behaaglik daarin verlekker. Daarna haar hande ewe sorgsaam met ‘n natlappie afgevee.
Toe, soveel anders as vroeër die dag, trek sy haar kombersie tot onder haar ken, en raak rustig aan die slaap.
En hierdie keer, toe ek haar al slapende sien oorkantel en byna van die sitplek afgly, het ek nie bedinktyd nodig gehad nie. Ek het eenvoudig my klein reiskussinkie onder haar kop ingewikkel en met my hande ‘n bakkie daaronder gevorm, sodat hierdie geringste ene van Jesus, heerlik gesit en slaap het soos ‘n kind, veilig en geborge.
En nie minder nie het ek, rustig en dankbaar, vrede gehad by die Here. Hy, wat dit goedgedink het om my nog ‘n stukkie van my mislike, bedrieglike eie ek te laat aflê op hierdie reis -- nie net van Kentucky na Colorado nie, maar op
die pad van minder-word-sodat-Hy-immer-meer-mag-word.