Sy sit reeds op die voorste sitplek in die bus toe ek reg agter haar, langs die vriendelike Amerikaanse boeretannie neersak. Met die opklimslag het ek gemerk dat sy beslis nie gewoon was nie, maar "goed opgevoed" en ewe polities korrek, het ek nie meer as vlugtig na haar gekyk nie.
Dis die voorlaaste lang skof oppad Denver toe, deur Kansas. Ek en die boeretannie raak aan’t gesels asof ons mekaar jarre lank al ken, maar net baie lanklaas gesien het.
So tussendeur merk ek uit die hoek van my oog dat die vrou op die voorste sitplek met groot klem sit en vingertaal praat -- die linkerhand en -pols in 'n kort stut -- so in die leegte in voor haar. Hmm, doof, of selfs doofstom dus. Maar ek en die Amerikaanse tannie geséls. En die buswiele vreet die myle op.
Dis eers toe my geselsgenoot afklim by ‘n klein haltetjie oppad na haar suster, dat ek myself regskuif om uiteindelik ‘n rustige leeskansie ingepas te kry. Salig.
En toe trek die vrou voor my vir die eerste keer werklik my aandag. Sy is verstommend “nie gewoon nie.” Sy het na alle waarskynlikheid onlangs ‘n operasie iewers op die voorste helfte van haar kop gehad, want die haartjies daar moes afgeskeer gewees het en staan nou net so stoppelhoog orent. Die langerige, ligbruin hare op die agterkop is in ‘n poniestert vasgevat.
Sy kan nie haar regteroog oopmaak nie, en oor die ander oog is ‘n halwe plastiekbrilraam met kleeflint op haar voorkop en teen haar neus vasgeplak.
Haar mond is ingesak en hol – sy het duidelik nie tande nie, en daarmee saam, staan die kennetjie puntig in die lug, presies net soos dié van Hansie en Grietjie se heks wat doer diep in die bos gewoon het.
Maar die vingers “praat”! Heftig en aanmekaar, en hulle hou net op toe die busbestuurder haar iets vra en sy die notaboekie langs haar gryp en met pen-en-al in sy hande druk. Hy skryf, en sy skryf, en hy skryf weer, maar toe hy omdraai en agter die boeretannie aan uit die bus uit klim en in die ruskamer verdwyn, is sy hoogs ontsteld.
Vir die eerste keer hoor ek ‘n geluid van haar kant af. Dis sulke klein babakat-kermpies, terwyl sy haarself heftig met die kneukels van die regterhand teen die kop bly kap.
“Here,” bid ek woordeloos, “help my om haar te help.” En dis toe ek huiwerig oorleun na haar toe, dat ek sien die notaboekie het oopgeval op ‘n bladsy waarop in onnette drukskrif geskryf staan: “Not eat for 2 days. Have no money.”
9 comments:
mariki
huil ek nou soos lanklaas in my lewe = uit my hart uit!
Hoe ondankbaar is ek soms!!
My hart is nou so seer hier waar ek sit vir daardie arme vroutjie. Die Bybel se ons sal engele huisves en dit nie eers weet nie.
Ek glo dit soos n kind dat hierdie mense na ons gestuur word om ons te toets.
O Mariki, dis seer.
Ag Nims, daai ondankbaar...dis ALMAL van ons.
Sonja, hier slaan jy nou die spykertjie op die kop -- en oor daardie ou toetsie vertel ek volgende keer!
IS né, Dané.
So sit ek ok en tjank. Ai Mariki
Hallo Mariki,
Ek moes net hierdie gedeelte aanhaal
Matt25:35 Want Ek het honger gehad, en julle het My te ete gegee; Ek het dors gehad, en julle het My te drinke gegee;
Ek stem saam met Sonja dat ons getoets word... om die barmhartige Samaritaan langs die pad te wees. Ons het inderdaad baie om voor dankbaar te wees.
Jip, my vriendin.
Charmaine en oomP -- dis al waaroor dit vir ons moet gaan, maar nou kom dit nie altyd so maklik nie -- soos ek tot my beskaming in die volgende possie sal skryf!
Post a Comment