Saturday, August 29, 2009

Vir die room van die oes - maar ook vir almal wat wil kom (laaste)

Een van die bekendste geboue in Amerika is die Akademie se Protestantse kapel – so mooi en sooo indrukwekkend!


Baie teenkanting ontlok by die voltooing daarvan in 1963.


Die treffende buitekant, gebou uit staal, aluminium en glas, skiet 17-puntig die lug in, soos vegvliegtuie wat in formasie opstyg.



Die binneplafon is 30 meter hoog, en die blou loodglasvensters slaan mens se asem weg. Die kleur van die vensters is van donker na lig, wat dui op die mens se beweeg uit die donkerte uit in die lig van God in.





Die staalkruis voor in die kerk was vir my aandoenlik mooi. Dit herinner mens aan ‘n vliegtuig wat in die lug in skiet, maar terselfdertyd sien jy ‘n swaard (dit is immers 'n militêre kapel) en jy dink ook aan die swaard van die Woord, en dan tog, vóór en ná alles, bly dit die simbool van die oorwinning van Christus en ook God se liefdessimbool, beskikbaar vir elkeen wat tot Hom wil kom.


Die banke is van Amerikaanse okkerneuthout, sowel as mahoniehout uit Afrika.


Die voorste twee rye in die kerk (wat sitplek bied aan 1 200 mense) is permanent afgesper, ter herdenking aan dié manne en vroue wat nie weer van die oorlogsveld af teruggekom het nie.


Hoog agter in die kerk, troon ‘n groot, klassieke pyporrel, met sy 4 334 pype, waarvan die hoogste feitlik 10 meter is.


Wat ‘n uiters besondere en pragtige plek van aanbidding – mag die siele van die jong studente tog daar gevoed word met die suiwere Waarheid!

[In die kelderverdieping is daar aanbiddingsareas vir die Jode en Rooms-Katolieke, sowel as ‘n vertrek waarin die volgelinge van ander gelowe bymekaar kan kom.]


3 comments:

SA Expats said...

Wow! Dit is verseker iets wat mens met jou eie twee oë moet gaan beskou.

Oom Petrus said...

Hallo Mariki,

Dit is asemrowend mooi.!!

Ek vertrou dat baie jongmense daar met hulle Skepper sal vrede maak.

Gelukkig woon onse dierbare Vader nie in tempels en geboue wat met die hande gemaak is nie, maar in die harte van elkeen van Sy kinders.
Groete

mariki said...

Indrukwekkend om te aanskou, John!

Amen, OomP.