Monday, August 17, 2009

Met een van Jesus se geringstes op die bus....(laaste)

Wie, ek, Here?!
Toe ek weer gewaar, is Linda besig om haarself moeisaam dwars te draai en uit haar sitplek orent te kom. Sy steek stadig haar linkerhand met die polsstut na my uit. Ek is reeds by haar en vra net dat Jesus my sal wys hoe om haar tog die beste van hulp te wees.

(En toe onthou ek met 'n skok -- daar is mos 'n badkamer aan die agterkant van die bus!! Dus géén uitkoms om te wag vir die volgende bushalte en om die dame oorkant die paadjie te mobiliseer nie!!)

Maar die volgende oomblik steek ek spontaan my arms na haar toe uit met die palms oop na bo, en vat haar onder haar twee elmboë vas, terwyl sy dieselfde met my doen. So beweeg ek treetjie vir treetjie in die onstabiele gangetjie tussen die sitplekke agteruit, terwyl sy my met kreupelstappies volg. Want tot nou toe het ek nie eens gesien dat die een voetjie effens na buite gedraai staan, en die ander een in ‘n ortopediese toerygstewel is nie. En ook nie dat haar arms donkerbruin is van pigmentasievlekke, deurspek met spookwittes nie.

Só vorder ons, stadig maar seker na die agterkant van die bus en terwyl ek daarop konsentreer om haar te help regop hou, vloei ‘n liefde en vreugde deur my vir hierdie vrou, soos waarvan ek lanklaas bewus was.

Later, nadat ek haar in die badkamer help regkom en toe weer op haar siplekkie sitgemaak het, en die busbestuurder by die volgende stopplek so goedgunstiglik geweier het dat enigiemand anders as hy vir haar ete betaal, is ons weer onderweg.

Ek het verwag sy sou nie kon wag om die kos gulsig te verslind nie. Maar nee, soo, ek wil amper sê elegant, het sy warm aartappelskyfie vir warm aartappelskyfie uit die pakkie gehaal, dit stadig in haar mond gesit, en met ‘n glimlag sit en kou. Net so met die hamburger. Duidelik het sy elke happie wat sy geneem het, deeglik geproe en haar behaaglik daarin verlekker. Daarna haar hande ewe sorgsaam met ‘n natlappie afgevee.

Toe, soveel anders as vroeër die dag, trek sy haar kombersie tot onder haar ken, en raak rustig aan die slaap.

En hierdie keer, toe ek haar al slapende sien oorkantel en byna van die sitplek afgly, het ek nie bedinktyd nodig gehad nie. Ek het eenvoudig my klein reiskussinkie onder haar kop ingewikkel en met my hande ‘n bakkie daaronder gevorm, sodat hierdie geringste ene van Jesus, heerlik gesit en slaap het soos ‘n kind, veilig en geborge.

En nie minder nie het ek, rustig en dankbaar, vrede gehad by die Here. Hy, wat dit goedgedink het om my nog ‘n stukkie van my mislike, bedrieglike eie ek te laat aflê op hierdie reis -- nie net van Kentucky na Colorado nie, maar op die pad van minder-word-sodat-Hy-immer-meer-mag-word.

14 comments:

Desia said...

Ai Mariki, ek het nie woorde nie...ek is ongelukkig een van die wat eerder geld sal gee of stuur aan die lydendes as self betrokke raak. Dankie dat jy dit met ons deel.
Laas week bel my man een aand laat van die werk af en se hy bring 'n gas huis toe; en op die plek is ek smoorkwaad en dink aan wat ek als vir hom gaan se en hoe ek nie kan glo hy doen so iets aan my nie terwyl ek die spaarkamer bed skoon oortrek.
Dis toe 'n vrou wat saam met haar 37 jarige epileptiese en "mentally and physically handicapped" seun ingevlieg is want waar hulle bly was die dr nie seker oor die regte diagnose nie.
Jamie kan glad nie vir homself sorg nie en sy pas hom al sy hele 37 jaar op.
Ek en sy het toe land en sand gesels volgende oggend voor ek haar by die hospitaal gaan aflaai het en daarna was ek omtrent in sak en as oor my allerverskriklikste onchristelike ongasvrye onvriendelik, ens gees. En hier is hierdie vrou en sy pas haar seun op sonder veel hulp van haar man en sy kla nie.
Ai ai ai, het my net weer tot my skande en verdriet bewus gemaak van my basiese sondige geaardheid, dat daar NIKS goed in my is sonder Jesus nie.

Anonymous said...

Vriendin, darm het jy gedoen wat jy gedoen het, and that’s what counts met hierdie toetsie.

Verlang na jou.

C

mariki said...

Desia -- lag ek oor hoedat die Here ons oor die vingers tik! En dan, wanneer mens jou sondige self opsyskuif met die hulp van die Heilige Gees, dan gee die Here VREUGDE!! Is Hy nie fantasties nie!

En hier was jy nou net so eerlik. Dankie, jong.

mariki said...

Desia -- wou nog sê: is die Jamies en Lindas van hierdie lewe nie verbysterend dapper nie!

mariki said...

C'tjie, -- dankie vir die troos.

Verlang ook baie, hoor!

'n Groot drukkie.

Sonja said...

Ai Mariki! Hierdie storie het so n mooi einde,dis wonderlik wat jy vir haar gedoen het!

mariki said...

Sonjatjie -- dis Jesus!

Oom Petrus said...

Hallo Mariki,
Wat 'n onselsugtige daad deur 'n kind van die Here. Die toets wat aan jou gestel is het jy met vlieende vaandels geslaag danksy Sy vernietgenade. So maak ons krone bymekaar hier op aarde nie met hoogmoed nie maar met deemoed
Groete

Thea said...

Stem Mariki, dis Jesus wat deur jou gewerk het - maar jy was gehoorsaam. Dis 'n baie mooi getuienis wat my sommer 'n warm gevoel om die hart gee. ((Mariki))

Nimsi se Blog said...

Hierdie storie gaan my nog lank bybly mariki - dit is so n aan die hart raak verhaal hierdie! En ek glo hierdie vroutjie sal met n warmte om die hart vir nog baie lank aan jou dink - namens haar: Baie Dankie mariki

Dané said...

Ja, Mariki, in en deur Jesus seëvier ons -- ook oor onsself.

mariki said...

OomP, jou woorde maak my nederig-bly in die Here. Dankie.

Dankie, Theatjie. Jy sou dieselfde gedoen het, weet ek.

Nims, jy is 'n ou liewe ding. En saam dank ons ons Jesus, né!

Amen, Dané.

Charmaine said...

Marike dit laat my net weer dink dat dit nie saakmaak hoe die buitekant lyk nie, binne in is ons net brose mense wat mekaar se uitreik so nodig het. Dis 'n mooi les vir ons almal...en as mens begin doen dan vloei die liefde van ons Vader deur ons na die ander persoon en bless ons almal. En dink net aan die mense op die bus wat alles gesien en daaruit geleer het...

mariki said...

Alles so waar, C.