Tuesday, August 25, 2009

Een, twee, drie - jy is skuldig, dok op en betaal!....(laaste)


“Kyk waar jy loop.”

Dis tog eenvoudig. Maar die vyftienjarige Alexa Logueira het nie dááraan gedink toe sy in New York geloop en ‘n sms op haar selfoon getik het nie. En toe nie die oop mangat gesien het nie. En ingeval het.

Die padwerkers het juis met die oranje keëls aangestap gekom (nou waarom nie éérs die keëls uitgepak nie!)

Gelukkig het Alexa net skrape opgedoen. Maar haar ouers reken die trauma daarvan om in ‘n rioolpyp te val, is rede genoeg om skadevergoeding te eis.

“Dat sy nie gekyk het waar sy loop nie, is nie ter sake nie,” sê hulle.

[Julie 2009]

~~~~~

Ek skrik jou nie.

‘n Pa in Quebec, baie ongelukkig oor die feit dat sy dogter se skoolwerk skade ly omdat sy te veel tyd voor die rekenaar deurbring, het haar as straf verbied om op ‘n skooluitstappie te gaan.

Toe vat sy haar pa hof toe – en wen die saak. Die pa (‘n enkelouer met toesigregte), het geappelleer – en weer verloor.

Want, sê die hof, die straf was buite verhouding met die oortreding.

(Die appélhofregter het gewaarsku dat kinders nie die uitspraak moet sien as ‘n ope uitnodiging om regstappe teen hul ouers te neem elke keer as hulle gestraf word nie.)

Maar nou wil ek graag weet: wat is dit anders?

[Junie 2009]

~~~~~

O, die pyn….(was die geld werd).

Cedrick Makara (‘n ondersoekbeampte van geregtelike eise) het ‘n geboue-eienaar in New York vir nalatigheid gedagvaar weens ‘n duimbesering.

Makara moes die ruskamer besoek en, omdat waar die deurknop moes wees daar net ‘n ronde opening was, het hy sy duim daarin gesteek om die deur oop te trek. Ongelukkig (of gelukkig?) het iemand aan die ander kant op daardie oomblik die deur oopgestoot en is sy duim sodanig beseer dat hy dit moes laat opereer en bowendien kon hy vir 6 maande lank nie werk nie.

Die jurie het hom bykans $3 miljoen aan skadevergoeding toegestaan.

[Junie 2003]

5 comments:

Oom Petrus said...

Hallo Mariki,
Hierdie houding van mense is verstommend.
Mens kan seker 'n paar jaar lewe op $3,000,000 tot die volgende insident gebeur om weer te kan voorsien!
Groete daar.

SA Expats said...

Die wêreld word mal.

Sonja said...

Ek begin dink dit is voordelig om in Amerika te bly!! Jy kan geld maak uit net mooi alles uit-tot as jy jou kop stamp!

Anonymous said...

Ek kom dadelik soontoe, maaikie.

C

mariki said...

OomP, verstommend is die woord. En dalk siek.

Expats (met wie praat ek nou hier?),
stapelgek.

En ja, Sonja, skelms en gierigaards -- het ek gesê dit sluit so baie regsgeleerdes ook in?(!) -- kry jy oral. Maar party samelewings bevorder hulle optrede.

Maaikie...uhmm...