Sunday, August 23, 2009

Een, twee, drie – jy is skuldig, dok op en betaal!.....(1)


Na aanleiding van ons verstomming laasweek oor die winkeldiefstalvoorval: hier is nog so ‘n paar verregaande hofsake uit hierdie land van “o-moet-my-tog-net-nie-(vermeende)-skade-aandoen-nie-want-
dan-gaan-ek-jou-“sue”-en-lekker-rykword.”

Hierdie houding het al die samelewing so deursuur, dat mens selde of ooit uit die gemiddelde Amerikaner – want dis beslis nie almal nie -- se mond die woord “sorry” sal hoor; soos wanneer hulle dalk op straat teen jou stamp, of iets in die gewone omgang doen wat jou verontrief – want dit kan as ‘n skulderkenning (met nare gevolge vir hulle) gesien word!

(Nogal moeilik vir ‘n gemanierde mens om mee saam te leef! Maar wanneer iemand so onbeskof is, en die 'gemanierde' mens na haar asem snak van verontwaardiging, dan moet so 'n 'gemanierde mens' maar net onthou “’n dienaar is nie groter as sy meester nie, en kyk wat het hulle aan my Meester gedoen….)

Maar terug na die ge-sue en so:


Liewe Mamma….?

‘n Man in New Jersey het laasjaar byna R800 000 gekry in ‘n hofsaak wat hy teen sy ma gemaak het.

John Garrity was besig om vir sy ma houtvloere in haar huis in te sit, toe sy hom op die skouer tik om te kom eet. Hy het met die omkykslag sy pinkie verloor toe sy hand aan die elektriese saag geraak het.

John het sy ma vir R1.6 miljoen gedagvaar, maar omdat die hof bevind het dat hulle albei ewe veel skuld aan die voorval gehad het, het hy net die helfte van sy eis toegestaan gekry.

7 comments:

Dané said...

Ek het al gehoor van hierdie "bedryf" in daardie land!

Oom Petrus said...

Hallo Mariki,
Dit lyk my daardie klomp wil skatryk word op ander se koste. Dalk is hulle bietjie sku vir werk, daarom die ander pad volg.
Groete

Sonja said...

Dit is darem verskriklik! Dit lyk vir my na een groot bedrogspil!

Desia said...

Interessant. Terwyl Kanadese nou weer vir elke liewe ding sal se "sorry." (En hulle daarop roem dat dit hulle nou onderskei van Amerikaners.)
Ivm. die seun en ma storie; nie dat dit noodwendig hier die geval is nie - ek verstaan dat dit soms gaan oor die versekering wat die ma het vir so iets, en dan "sue" die seun eintlik sy ma se versekering en eintlik baat hul albei daarby. (Behalwe dat haar versekeringspremie natuurlik hoer sal wees in die vervolg...)

mariki said...

"Bedryf" voorwaar, Dané.

OomP, jy sien die ding fyn!

Sonja, Desia noem juis hiervan; nou klink hierdie geval skielik vir my ook erg skelm.

Desia, DIS nou interessant van die Kanadese! Nie geweet nie. En ja, noudat jy dit noem, skielik is alles met hierdie storie nou ook nie so onskuldig nie.

kim_snwbrdr said...

Dis 'n nagmerrie om jou kind hier te laat bestuur...vir die presiese rede... "liability". Die versekering vir die voorreg is baie hoog.

mariki said...

Ja, "liability" het gekom om te bly, né. Dis 'n simpele storie.