Friday, August 28, 2009

Net die room van die oes (1)

Gister was ‘n allermooiste dag en Vennoot en ek het bietjie ‘n draaitjie gemaak by die Nasionale Lugmag Akademie, so anderhalfuur se ry van hier af.

Die Akademie is een van die mees gesogte publieke “kolleges” in Amerika. Die totale opleiding van vier jaar vir ‘n B.Sc (met ‘n verstommende aantal keusevakke, en nie alles suiwer wetenskappe nie) is gratis EN die studente kry ‘n toelaag. MAAR die keuring van elke jaar se 1 400 nuwe studente, is van de taaiste, en die suksesvolle kandidate moet dan vir ‘n paar jaar militêre diens verrig (met goeie betaling.) Sport en militêre opleiding is eweseer deel van die opleiding – hierdie storie is nie vir sissies nie.

Jy hoef nie hierheen te kom om ‘n lugmagvlieënier te word nie en jy kan as Akademie-gegradueerde dan ook in enige afdeling van die weermag diens doen. Hul doel is eintlik om ‘n leierskorps vir die weermag op te lei, met die leuse: “Integriteit eerste, Diens staan voorop en Uitmuntendheid in alles wat ons doen.”


'n Beeldhouwerk op die gronde

Heelwat internasionale militêre studente is al hier opgelei, maar interessant genoeg nog nie een Suid-Afrikaner nie.

[In Amerika word universiteite normaalweg kolleges genoem, en so van geleerdheid gepraat: die oudste opvoedkundige akademie het al bestaan in die 3e eeu voor Christus, in Mesopotamië.]

Logieserwys, maar ag, tog so tragies, het so ‘n inrigting ook sy oorlogshelde.

Kaptein Lance Sijan (afgestudeer 1965) was die eerste gegradueerde van die Akademie om die Medal of Honour te ontvang. Hy is oor Viëtnam afgeskiet en ernstig beseer, maar het vir ses weke lank die vyand ontwyk deur in die kalksteengebergtes op sy rug – weens sy talle beserings -- te seil-kruip. Hoewel erg verswak, het hy later uit aanhouding ontsnap, maar is weer aangekeer. Ten spyte van erge marteling, het hy nooit geknak nie. Hy is in gevangenskap oorlede weens geen mediese versorging vir sy talle beserings, asook verhongering.

Hy was ‘n skrale 25 jaar oud.

Die volgende internetfoto's is van die kalksteengebergtes in Viëtnam, waar die bloedige oorlog afgespeel en so skokkend baie lewens verloor is.



6 comments:

Sonja said...

Ek het groooot waardering vir die handjievol sulke mense wat nog praat van intergriteit en eerlikheid en goeie waardes. Dit klink vir my na n plek wat nie net mense n rigting leer nie, maar hulle karakters vir ewing verander in n juweel! Daar moet meer sulke plekke wees!

mariki said...

Ja, liewe Sonja, WAS daar maar meer opregtheid en integriteit in hierdie lewe!

Oom Petrus said...

Hallo Mariki
Wens ons kon van die institusies hier in SA kry.Dit sal dalk 'n uitkoms vir baie jongmense wees.
Groete

mariki said...

Ek kan dit dink, OomP.

Dané said...

En selfs menigte oueres in dese wêreld sou kon baat by so 'n "onderig" (hulle sal net die "atletics" agterweë moet laat!)

mariki said...

Ha-ha, Dané! Dis nou oor die "athletics", want die res van jou stelling is eintlik tragies en stem mens hartseer oor die waarheid daarvan.