Sunday, August 16, 2009

Met een van Jesus se geringstes op die bus....(2)

[ Om verder eerlik te wees oor hierdie gebeure wat die Here Self so duidelik op my pad gebring het -- ek het weens ‘n administratiewe fout op daardie bus en spesifiek op daardie sitplek beland -- skets 'n minder mooi prentjie van my. Wens ek kon vertel hoe ek selfloos en sonder om te dink, inderhaas die sukkelende vrou voor my op die bus te hulp gesnel het met groot oorgawe! Maar nee, die sondige oue mens sit ‘n horibale en hardkoppige bakleiery op as dit hom/haar pas….]

Dus:

Die bus is reeds weer onderweg, maar die kermgeluidjies en die kneukelkappery duur voort. Ek sit my hand versigtig op die ontstelde vrou se skouer. Sy ruk eers weg, en draai dan stadig haar hele lyf om te sien wie aan haar vat. ‘n Helder blou oog bekyk my aandagtig deur die lens van die halwe bril.

Ek buk en tel die notaboekie op. Skryf met groot letters: “I will buy you food at the next stop.” Gee dit dan aan haar. Verbasend vlug lees sy die woorde, kyk weer deurdringend na my, en maak ‘n vingertaalteken vir “goed”. Drukskrif dan “ need go bathroom” en wys dit vir my. Ek knik en sy draai weg vorentoe.
Verlig sak ek in my sitplek terug, so bly dat ek iets vir haar kon doen. Noudat sy my aandag getrek het, bly ek oormatiglik bewus van haar en haar ontsteltenis en my gedagtes maal rond.

“Here, U weet hoe ‘n privaatmens ek is. U weet hoe moeilik dit vir my is om fisies by mense betrokke te raak. U het my die gawe van ondersteuning gegee, deur mense te bemoedig met woorde en gedagtes en boeke en briewe; maar tog nie om letterlik die dowes en blindes en die verminktes aan te raak nie? U Self het my mos gemaak met die tipe persoonlikheid wat ek het. U maak tog mense verskillend en gebruik hulle verskillend?”

Ek sien hoedat die vrou haar buskaartjie sit en beskou. Lees dis uitgereik aan ene “Linda Byerd.”

“Vader, as u wil hê dat ek hierdie mens, .…Linda.... dalk fisies moet help, moet U my help. Ek sal nie weet hoe nie.” (Voeg nie by dat ek eintlik nie wil kans sien nie.)

Nou eers kom ek agter dat die passasiers naaste aan ons, ook betrokke geraak het by die gebeure en alles deeglik sit en beskou. ‘n Mollige vrou van oorkant die paadjie glimlag met my. “Hmm, vir jou gaan ek vra om vir Linda te help as sy dalk by die volgende busstasie badkamer toe wil gaan,” dink ek verlig.

(Nee, maar so werk ons Here nie volgens ons ou plannetjies nie. En ek is seker Sy sin vir humor kom ook sulke kere in die prentjie -- soos ek toe ook ter bevestiging sou uitvind!)

8 comments:

Dané said...

Mariki, ons is almal sondaars wat juis teen die sonde (ook van onwilligheid) moet baklei om te doen wat Jesus wil hê. Ek wag om te hoor!

Thea said...

Ek sukkel ook met daai "privaat mens" en fisies betrokke raak Mariki. Maar jy het my nou nuuskierig oor wat verder gebeur het want ek het self ook al daai ding agter gekom dat ons planne en dit wat die Here vir ons in gedagte het nie altyd dieselfde is nie...

Oom Petrus said...

Hallo Mariki,
Aggenee...Die spanning maak my klaar!

Nimsi se Blog said...

mariki,
ek is nou soos n stout kind wat nie kan wag vir die volgende aand se storie nie...

Sonja said...

Dis die aangrypendste storie! Ek kan nie wag om die vervolg te hoor nie!! Dit klink of dit nog nie die einde is nie. Sy is so gelukkig dat my engel Mariki ook op haar pad gekom het. XXX

mariki said...

Liewe julle almal -- dankie vir die lees by my kraaltjie -- waardeer julle so!

Ja, ons baklei teen die sonde, maar Jesus kom help ons! Elke keer!

Charmaine said...

Ek kom so agterna, maar goed so, want nou kan ek die hele storie lees... dit is mos so dat dit wat in ons brand deur one eie tekortkominge... of wat ons dink tekortkominge is gekortwiek word dat ons nie ons roeping kan vervul nie

mariki said...

Jip, ons maak onsself lam en die Koninkryk ky skade, né Charmaine.