Wednesday, August 19, 2009

'n Soppie storie

Vandag het die weer vir my besluit wat vanaand gekook sal word. Heerlik in die middel van die somer het ons ‘n dag van sagte en deurdringende “ouKaapse” reën.

Dus: sop sal dit wees vanaand, en wel yskassop. Dit is nou, al die oorskietgroentetjies in die yskas, opgekook saam met ‘n verdwaalde ou skaapskenkeltjie van laas se skapie-aankope op die plaas.

Terwyl “yskassop” by almal bekend is, plaas ek hier ‘n meer ongewone reseppie vir blomkoolsop wat ek van ‘n vriendin gekry het. (Net ingeval jy lus is vir ‘n andersoortige soppie storie.)

~~~~
Blomkoolsop

100g botter

1 kg vars blomkool in klein blommetjies gebreek

3 preie, geskil, in ringetjies gekap en goed afgespoel (tensy jy van sandkorrels onder jou tande hou!)

4 knoffeltoontjies, geskil en gekap

3 takkies vars tiemie (vriendin sê sy het ook al gekapte pietersielie gebruik – dis net so lekker)

2 lourierblare

800 ml hoenderaftreksel

125 ml room (opsioneel) – (Hmm, maak dit ‘n vereiste!)

So maak mens:

1) Smelt die botter in ‘n kastrol
2) Roer die blomkoolblommetjies daarby
3) Voeg die preie, knoffel, tiemie en lourierblare by
4) Braai liggies
5) Roer hoenderaftreksel by
6) Laat dit stadig kook totdat die blommetjies net sag is
7) Verwyder lourierblare en tiemietakkies en verpulp die sop met
jou handmenger, of laat effens afkoel en verpulp in jou
voedelsverwerker
8) Verhit die sop weer oor ‘n matige hitte (as afgekoel vir die
voedselverwerker)
9) Roer die room by

En indien jy wonder oor sout en peper – hierdie sop het dit werklik nie nodig nie.

(Natuurlik gaan jy dit bedien met warm, tuisgebakte brood. Hoe anders!)

7 comments:

Sonja said...

Nou is ek vreeslik honger!!!!
Dit lyk soooo lekkerrrr!

mariki said...

Ek is vreeeslik lief vir sop, Sonja. Gelukkig Vennoot ook. Sommer alle soorte.

Nimsi se Blog said...

Dankie mariki - hierdie reseppie gaan ek nog voor die naweek toets! Dit is ysweer hier in Johannesburg - en - die weer doen my heupe nie goed nie!

Desia said...

Ons is ook baie lief vir sop en hierdie lyk na een om defnitief te maak; knoffel"toontjies"; wat 'n pragtige woord! Ek het dit nog nooit gehoor nie!

mariki said...

Nims, heupe en koue weer in een sin genoem, is gewoonlik slegte nuus!

Desia, Afrikaans is darem maar net so 'n gesellig en beskrywende taal!!

Oom Petrus said...

Hallo Mariki,
My seun sê altyd, sop is vir siek mense.
Nouja, dan sal ek maar altyd siek genoem moet word.....!
Groete

mariki said...

Kolskoot, OomP!